Nuus 06:00
BULLETIN 7 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika betuig sy meegevoel nadat ‘n Malawiese burger tydens repatriasie sterf
# ‘n Derde verdagte gee haarself oor in die 15-miljoen-rand-edelstenesaak
# En rugby: Rassie sê soveel as moontlik spelers moet toetservaring opdoen
# Die Suid-Afrikaanse regering sê hulle sal deur diplomatieke kanale met die Malawiese owerhede skakel na die dood van ‘n Malawiese burger tydens ‘n repatriasie-operasie. Die passasier is Sondag oorlede op ‘n bus wat na Malawi onderweg was, kort nadat hy die repatriasie-sentrum in Musina, Limpopo, verlaat het. Die adjunkwoordvoerder van die regering, William Baloyi, sê die bus het na die sentrum teruggekeer, waar die polisie die vereiste forensiese prosedures voltooi het voordat die oorblywende passasiers hul reis na Malawi voortgesit het:
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, professor Somadoda Fikeni, sê daar is ‘n behoefte aan strategiese vooruitskouing en effektiewe bestuur by die Staatsinligtingstegnologie-agentskap. ‘n Onafhanklike ondersoek oor die tydperk van 2020 tot 2025, het ernstige swak punte in bestedingsbeheer, kontrakbestuur en bestuur bevind. Die verslag het onder meer bevind dat meer as twee-miljard-rand se onreëlmatige uitgawes deur die Ouditeur-generaal oor vier geouditeerde jare uitgewys is. Fikeni sê dis belangrik om die kwessies in die verslag aan te spreek om internasionale mededinging en digitale transformasie te verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Beroepsweddersvereniging sê dringende wetgewende optrede is nodig om onwettige dobbelary in die buiteland te bekamp. Die vereniging het die Nasionale Dobbelraad se pogings verwelkom om onwettige dobbelwebwerwe te blokkeer, aangesien die regering wette het wat onwettige aanlyndobbelary verbied, maar nie oor doeltreffende afdwingingmetodes beskik nie. Sean Coleman van SABA vra sterker wette, strenger betalingsbeheer en beter koördinering tussen reguleerders en wetstoepassing om verbruikers te beskerm en miljarde rand wat jaarliks aan onwettige buitelandse operateurs verlore gaan, te bekamp.
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat sê ‘n derde verdagte het haarself by die Edenvale-polisiestasie oorgegee in verband met die beweerde diefstal van edelstene ter waarde van bykans 15-miljoen-rand by ‘n perseel in Killarney, Johannesburg. Die verdagte sal na verwagting vandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn. Die OPOD-woordvoerder, Lizzy Suping, sê drie verdagtes is nou in hegtenis geneem, en die oorblywende twee arrestasies sal binnekort volg:
# Die Oekraïense president Volodymyr Zelensky het gewaarsku dat Rusland sal voortgaan om residensiële geboue te teiken solank Patriot-verdedigingsmissiele deel van die bondgenote se voorraad bly. Oekraïne se hoofstad, Kiëf, het vroeg Maandagoggend onder ‘n dodelike Russiese aanval deurgeloop, waartydens minstens 15 mense dood is en nog 56 beseer is. Nog ses mense is in die groter Kiëf-streek dood, en 21 is beseer. Zelensky het die VSA en Europese bondgenote versoek om die NAVO-beraad in Ankara, Turkye, hierdie week te verlaat met sterk besluite oor die versterking van Oekraïne se lugverdediging.
# Rugby: Die Springbokafrigter Rassie Erasmus sê hy wil soveel as moontlik spelers die geleentheid gee om toetsrugby te ervaar. Hy het die veranderinge vir die Nasieskampioenskapwedstryd Saterdag teen Skotland op Loftus aangekondig. Slegs vyf spelers wat Engeland oor die naweek met 45-21 op Ellispark geklop het is weer in die beginspan. Pieter-Steph du Toit sal weer die span aanvoer en is deel van die lostrio saam met Evan Roos, en Paul de Villiers wat sy debuut teen Engeland gemaak het. Erasmus sê Skotland sal ‘n goeie toets vir die Bokke se diepte wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-130-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-167-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….