Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Januarie 2024:
NASIONAAL:
# Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met: “THE YEAR OF THE OPPOSITION”. Die koerant skryf almal sweer op een of ander manier saam teen die ANC.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die hofverskyning van die 43-jarige Eugene Botha van Rondebult aan die Oos-Rand wat aangekla word van die moord op sy pa, Johan, sy ma, June en sy suter Suné.
Dan skryf die koerant oor hoe die Cheetah-rugbyspeler, Tapiwa Mafura en ‘n voormalige Mev. Suid-Afrika en Mev. Wêreldwyd, Anette Kasselman ‘n selfoondief in Bloemfontein agterna gesit en vasgetrek het.
En laastens is daar nuus oor 158 aasvoëls wat van Noordwes na die Oos-Kaap geskuif gaan word om hulle te beskerm teen vergiftiging.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oor die planne van die Patriotic Alliance om grensbeheer oor te neem.
En berig oor loopbaanvoorstelle vir matrikulante wat geslaag het.
# En The Citizen:
Skryf kenners is van mening Suid-Afrika se hofsaak teen Israel in die Internasionale Wêreldhof gaan die land se verhouding met die VSA en sekere Brics-lande skaad.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ook oor Suid-Afrika se voorgenome saak teen Israel en skryf oor die nadele wat dit vir die land se internasionale betrekkinge met die VSA, Rusland en China inhou.
En die koerant skryf ook oor Kasselman en Mafura se selfoon-heldedaad.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad.
En tweedens berig die koerant die Departement van Korrektiewe Diens het bewerings in die internasionale media verwerp dat Oscar Pistorius doodsdreigemente agter tralies ontvang het.
# En Cape Times:
Skryf die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi kan ‘n aanklag van minagting van die hof in die gesig staar nadat hy versuim het om te voldoen aan ‘n hofbevel om die status van buitelandse werkers te hersien.
En tweedens het die koerant nuus oor die verskerpte optrede by landsgrense wat vrugte afwerp.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n bekgeveg tussen die Walmer-polisiestasiebevelvoerder en ‘n adjudant-offisier het uitgekring nadat die kollegas nou strafregtelike klagtes teen mekaar ingedien het.
En tweedens is daar nuus oor ‘n weldoener wat ‘n koevert met honderde rand opgetel en aan die eienaar terugbesorg het.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die familie van die ontslape dramaturg Mbongeni Ngema het die aanspraak van Yolanda Wanda Moncho verwerp dat sy en Ngema getroud was.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Wêreldvoedselprogram se projek om groente te kweek vir die Epako-gemeenskap in Gobabis bemagtig die inwoners en help sowat nege-duisend mense in hul stryd teen wanvoeding.
En tweedens skryf die koerant dit gaan baie goed met die renosterkalfie wat in Oktober 2022 by die Rhino Momma-projek aangekom het, nadat sy deur haar ma verwerp is. Die renoster se versorger, Juliette Erdtsieck sê Venasha bly saam met drie renosterkoeie en hul kalwers in ’n kamp.