Nuus 06:00
BULLETIN 2 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank sê dit is ‘n prioriteit om verwagtinge terug te bring op teiken
# President Ramaphosa gaan die Nkabinde-verslag oor Andrew Chauke se geskiktheid bestudeer
# En Iran waarsku hy sal reageer op dreigemente teen sy burgers en leiers
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê hy is bekommerd dat inflasieverwagtinge bo die sentrale bank se drie-persent-teiken gestyg het. In reaksie op olieskokke as gevolg van die Midde-Oosterse oorlog, het die bank rentekoerse in Mei vir die eerste keer in drie jaar verhoog. Dit was met 25 basispunte tot sewe persent. Kganyago het aan Bloomberg gesê kerninflasie, wat energie- en voedselpryse uitsluit, sal na verwagting in die eerste kwartaal van volgende jaar ‘n hoogtepunt bereik:
# President Cyril Ramaphosa het die verslag ontvang deur die Nkabinde-ondersoek na die geskiktheid van die Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, om die amp te beklee. Die ondersoek, onder leiding van die afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, Baaitse Nkabinde, is in September verlede jaar ingestel om bewerings oor Chauke se geskiktheid en bevoegdheid te ondersoek. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya sê Ramaphosa het Chauke in Julie verlede jaar geskors hangende die uitkoms van die proses:
# Die Grensbestuursowerheid sê die oorsaak van ‘n busongeluk Dinsdag naby die Beitbrug-grenspos in Limpopo word steeds ondersoek. Hy sê hy is diep bedroef oor die ongeluk, met ‘n bus wat buitelandse burgers vir repatriasie van Durban in KwaZulu-Natal na Musina vervoer het. Die bestuurder is in die ongeluk dood, terwyl sewe passasiers beseer is en na die hospitaal geneem is vir behandeling. Mmemme Mogotsi van die owerheid het haar meegevoel met die bestuurder se familie betuig en die beseerdes ‘n spoedige herstel toegewens.
# Die Iranse minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, het gewaarsku dat enige bedreiging teen sy mense en leierskap ‘n onmiddellike en kragtige reaksie sal uitlok. Sy opmerkings volg nadat die Israelse minister van Verdediging, Israel Katz, gewaarsku het dat die Iranse opperleier, Mojtaba Khamenei, “gemerk is om te sterf”. Hy het die Iraniërs beskryf as “goeie handelaars” wat probeer om toegewings in onderhandelinge te verkry. Araghchi sê die bepalings van die memorandum van ooreenkoms, wat bedoel is om ‘n pad na ‘n langtermyn-ooreenkoms tussen Iran en die VSA te baan, is so duidelik soos daglig vir almal om te sien.
# Krieket: Die Protea-vrouespan kom vandag teen mede-gasvroue Engeland te staan in die tweede T20 Wêreldbeker-halfeindstryd op die Oval in Londen. Australië wag op die wenner wat Sondag in die eindstryd op Lord’s sal speel. Australië het die Wes-Indiese Eilande maklik in Dinsdag se eerste halfeindstryd geklop. Suid-Afrika se vertoning tot dusver in hierdie toernooi was nie baie oortuigend nie. Die vroue het teen Australië in hul eerste wedstryd geswig, gevolg deur ‘n onoortuigende oorwinning oor Pakistan, ‘n goeie vertoning teen Indië en ‘n oorwinning van 88 lopies oor Nederland. Engeland is tot dusver onoorwonne in die toernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-443-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-39-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: Vyftig jong wetenskaplikes uit 20 Afrikalande is gekies vir vanjaar se African Stars-genootskapprogram. Die program fokus op opleiding in genomika, diagnostiek, entstofontwikkeling en entrepreneurskap in biotegnologie. Dit word bestuur deur die Universiteit Stellenbosch se sentrum vir epidemiereaksie en -innovering en die Pasteur-instituut van Dakar, met die ondersteuning van die Mastercard-stigting. Die program bring navorsers in hul vroeë loopbaan en gevestigde navorsers bymekaar vir gevorderde opleiding wat ontwerp is om Afrika se bevoegdheid in epidemievoorbereiding en gesondheidsinnovering te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….