Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 30 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die uitvoerende hoof van Impala Platinum, Nico Muller sê die ontwikkeling van nuwe platinumgroepmetale in Suid-Afrika is nie lewensvatbaar in die nabye toekoms nie. Hy sê die langtermynvooruitsigte vir die vraag na elektriese voertuie is nie goed nie.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Lei met “THE FEAR FACTOR”. Teen die einde van Vrouemaand berig die koerant oor Suid-Afrikaanse vroue se stryd om geregtigheid wat steeds voortduur.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink het ’n dringende wantrouemosie van die ANC afgeweer. Die DA het hofdokumente aan die ANC bedien om ’n stokkie daarvoor te steek. Ontleders waarsku egter ActionSA is steeds besig om die koalisie te ondergrawe.
En tweedens skryf die koerant die middelgewig-wêreldkampioen, Dricus du Plessis het sy kant gebring om sy titel suksesvol te verdedig, en nou moet die UFC sy woord hou en verseker dat sy volgende geveg op tuisbodem is.
# The Star en Pretoria News:
Berig oor ‘n diplomatieke geskil tussen die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en die Afrika-kommissie vir Kernenergie se uitvoerende sekretaris en voorsitter, Enobot Agboraw.
En tweedens skryf die koerant die All Blacks waag dit môre in die Leeukuil.
# Sowetan:
Berig Johannesburgse inwoners sê terwyl die strate rondom die Ellispark-rugbystadion opgeknap word vir ‘n internasionale kragmeting, word hulle woonbuurte in die omgewing afgeskeep.
# En The Citizen:
Skryf die staatsbeheerde Lugverkeernavigasiediens is in die spervuur omdat die instelling nie aan regulatoriese vereistes voldoen nie, met die gevolg dat sommige lande hul vlugte na Suid-Afrika mag opskort.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens AfriForum en die landbou-organisasie Saai sê Interpol moet nou ingryp om te help met die bekamping van oorgrens-veediefstalle uit Lesotho.
Dan skryf die koerant ook oor Dricus se volgende geveg wat in Suid-Afrika moet plaasvind.
En laastens is daar nuus oor ‘n hofgeding oor mans wat hul vrouens se vanne wil aanneem in die huwelik.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube gaan by die Tesourie aanklop vir meer geld om die grootskaalse verlies aan onderwysposte af te weer.
Dan skryf die koerant die damme wat op ‘n plaas by Riverlands gebreek en grootskaalse oorstromings in Malmesbury veroorsaak het, het nie aan wetlike vereistes voldoen nie.
En laastens is daar nuus oor Simba-skyfies se nuwe KFC-geur.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die damme wat nie aan wetlike vereistes voldoen het nie.
En berig ook oor môre se stryd tussen die Springbokke en All Blacks.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig mediese dokters in Nelson Mandelabaai leef in vrees en moes gewapende sekerheidswagte aanstel aangesien hulle geteiken word deur misdadigers wat beskermingsfooie eis.
En tweedens skryf die koerant oor die nuwe lineêre versneller (Linac-masjien) van 60-miljoen-rand wat by die Livingstone-hospitaal in gebruik geneem is vir kankerbehandeling.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die burgemeester van eThekwini, Cyril Xaba het aangekondig dat die munisipaliteit van die agterstallige skuld van inwoners gaan afskryf.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die polisie in die Erongostreek is bekommerd oor die toenemende verdwyning van mense. Nog drie mense is as vermis aangemeld waarvan een ’n 15-jarige seun is.
Tweedens skryf die koerant die Namibië Professionele Jagvereniging het ’n plasing op sosiale media deur ’n Amerikaner wat spog met foto’s van dooie jagluiperds wat hy in Namibië geskiet het, veroordeel. En laastens is daar nuus oor Chantel Kotze van Otjiwarongo wat twee suksesvolle kogleêre inplantings ontvang het.