Nuus 06:00
BULLETIN 30 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra die privaat sektor om te help met die verbetering van die spoornetwerk
# Die VN-hoof doen ‘n beroep op Israel om sy aanvalle in die Wesoewer onmiddellik te staak
# En rugby: SA Rugby waarsku ondersteuners teen vals Springbok-handelsware
# President Cyril Ramaphosa het logistieke uitdagings in verskeie sektore toegeskryf aan swak spoortoestande en staatskaping. Hy het die behoefte beklemtoon aan privaatsektorbeleggings, onder meer in houerterminale, om die sektor te laat herleef. Ramaphosa sê die instelling van die vraglogistiek-padkaart wil van hierdie kwessies aanspreek en die land se logistieke infrastruktuur verbeter:
# Die vakbondfederasie, Saftu, verwelkom die besluit van die hof in Londen oor die uitlewering van die Eskom-kontrakteur, Michael Lomas, aan Suid-Afrika. Lomas kan teregstaan op aanklagte van korrupsie wat verband hou met Eskom se Kusile-kragstasie wat die nutsmaatskappy 745-miljoen-rand in omkoopgeld gekos het. ‘n Woordvoerder van Saftu, Mogoshadi Maserumule, is verheug dat sleutelfigure in die Eskom-skandaal sal teregstaan, maar vra vinnige vervolging en hou vol finansiële vergoeding en gevangenisstraf is noodsaaklik vir korrupsiesake:
# ActionSA het die terugtrekking verwelkom van die ANC se wantrouemosie teen die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink. Die party sê die stap gee hom kans om ‘n interne hersiening en samesprekings af te handel oor sy rol in die veelparty-koalisie. Intussen het Kwena Moloto van die DA ActionSA beskuldig van verraad teen Tshwane se inwoners met die onttrekking aan die veelparty-regering, wat die stad se onlangse vordering bedreig:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres sê die jongste gebeure in die Wesoewer, insluitend Israel se voortgesette aanvalle, is kommerwekkend. Minstens 17 Palestyne is die week deur Israelse magte in klopjagte in die Wesoewer gedood. Guterres het ‘n beroep op Israel gedoen om onmiddellik sy optrede te staak. Hy sê dit vererger ‘n reeds plofbare situasie en ondermyn die Palestynse Owerheid verder. Hy het die Israelse weermag versoek om sy verantwoordelikhede ingevolge internasionale humanitêre reg na te kom.
# Rugby: SA Rugby het ‘n dringende waarskuwing uitgereik aan aanlyn kopers wat gevaar loop om ingeloop te word deur skelms wat voorgee dis die amptelike Springbok-winkel op sosialemediakanale. Dosyne bedrieërs is nou bedrywig op Instagram, Facebook en ander platforms en gebruik egte Springbok-beelde en geloofwaardige winkelname om voordeel te trek uit Springbok-koors. Daar is net een aanlyn Springbok-winkel met toegang tot amptelike klerasie en gelisensieerde ondersteunersitems waar bestellings en aflewerings gewaarborg word. Dit is te vinde by www.sarugbyshop.co.za
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-309-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-518-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Die 60ste Natuurlewe-fotograaf van die Jaar-kompetisie het ‘n rekord 59-duisend-228 inskrywings uit 117 lande en gebiede ontvang. Die Natuurhistoriese Museum het ‘n paar mededingende foto’s vrygestel. Die bekroonde Britse fotograaf en skrywer van Kaapstad, Tommy Trenchard is een van die benoemdes vir sy foto getiteld Hooked. Terwyl Trenchard aan boord van die Greenpeace-skip Arctic Sunrise was, het hy die laaste vinslag van ‘n blouhaai vasgevang toe dit uit die see getrek is. Die wenners sal in Oktober aangekondig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….