Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Departement van Gesondheid verwag om binne die volgende maand sy eerste stel konsepregulasies vir die Nasionale Gesondheidsversekeringswet vir openbare kommentaar vry te stel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die beleërde minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane sê sy sal volledig terugvoering gee aan die Parlement oor die vermeende VBS-skandaal waarby sy betrek word. President Cyril Ramaphosa eis ook ‘n verduideliking van haar.
Dan skryf die koerant oor die spelerskleedkamers by Ellispark wat opgeknap is. Dit is nou van die beste ter wêreld.
En laastens is daar ‘n brokkie oor ‘n driejarige seuntjie wat ‘n fles wat drie-duisend-500 jaar oud is in ‘n Israelse museum gebreek het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die Spesiale Ondersoekeenheid en Batebeslagleggingseenheid het op die Lotto-plunderaars toegesak.
En berig die jongmense van Soweto beplan ‘n opmars oor werkloosheid.
# Sowetan:
Berig twee voormalige hoofde van staatsinstellings wat regstreekse bande met die Guptas gehad het, Siyabonga Gama en Brian Molefe, is gister as LP’s vir die MK-party ingehuldig. Die koerant se opskrif lui: “AHEE! SAXONWOLD MOVES TO CAPE TOWN”.
# En The Citizen:
Skryf Nasionale Gesondheidsversekering moet volgens kenners ook voorbereiding tref vir gespesialiseerde mediese diens wat tans deur privaat mediese fondse voorsien word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig drie pasiënte is by die psigiatriese hospitaal in Kimberley dood nadat hulle na bewering longontsteking opgedoen het omdat hulle nie genoeg komberse gehad het nie. Die MRK stel ondersoek in.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n voerskenking aan 50 boere in die Noord-Kaap wie se vee vrek as gevolg van die droogte.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Simelane.
Dan word berig die Wes-Kaapse regering moet twee-duisend-400 onderwysposte besnoei nadat die sentrale regering die begroting ingekort het.
En laastens skryf die koerant ook oor die kind wat die Israelse fles gebreek het.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Simelane wat sê sy is bereid om enige vrae te beantoord.
En berig ‘n onderwyser wat na bewering die k-woord gebruik het, is afgedank.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ’n gesin van vyf, insluitend drie kinders, is dood toe hul huis in Missionvale aan die brand geraak het.
En skryf Nelson Mandelabaai sal een-miljard-rand nodig hê om sy verbrokkelende elektrisiteitsinfrastruktuur op te knap. Daar was 30 onbeplande kragonderbrekings in Augustus.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf daar is uit talle oorde ‘n beroep gedoen dat munisipale werkers in die stad geen verhoging moet kry nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die naakte liggaam van ’n sewejarige meisie is in ’n verlate huis by die ou dadelplaas naby Mariental gevind. Die polisie stel ondersoek in.
Dan skryf die koerant uit die byna 12-duisend swangerskappe wat oor ‘n jaartydperk in Ohangwena aangeteken is, was twee-duisend-102 tienerswangerskappe.
En laastens is daar nuus oor ‘n onderwyser se sopkombuis wat meer as 70 kinders in ‘n informele nedersetting kos gee.