Nuus 06:00
BULLETIN 29 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die inhuldiging van staatskaping-rolspelers as LP’s ondermyn demokratiese integriteit
# Die burgemeester van Tshwane kap terug in ‘n poging om ‘n mosie van wantroue af te weer
# En krieket: Die Protea-vroue speel drie T20’s teen Pakistan voor die Wêreldbeker-toernooi
# Die DA veroordeel die inhuldiging van staatskaping-rolspelers as MK-parlementslede. Die party sê die insluiting van die voormalige uitvoerende hoof van Prasa, Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Eskom en Transnet, Brian Molefe, en die voormalige hoof van die Staatsinligtingsdiens, Mzwanele Manyi, is by korrupsieskandale betrek en ondermyn die demokrasie en die integriteit van die Parlement. ‘n DA-woordvoerder, George Michalakis, kritiseer ook die MK-party oor sy gewysigde kandidatelys wat kiesersvertroue in gedrang bring:
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging vra munisipaliteite met swak oudit-uitkomste om toesig te versterk en aanspreeklikheid te verseker om toekomstige mislukkings te voorkom. Dit volg op die 2022/2023-uitkomste van die ouditeur-generaal se verslag, wat ‘n 45-persent afname toon in afgekeurde oudits. Lerato Phasha van die vereniging beklemtoon die behoefte aan bekwame leierskap, betroubare finansiële bestuur en sterk oorsig om munisipale bestuur te verbeter:
# Die Padongelukkefonds steun die Spesiale Ondersoekeenheid en die Departement van Gesondheid om op te tree teen bedrieglike mediese eise. Die fonds se uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, sê hulle sal die name bekend maak van dokters en prokureurs wat by sulke eise betrokke is. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het aangekondig die ondersoekeenheid het die Departement van Gesondheid meer as 3,1-miljard-rand met bedrieglike eise gespaar. Die Padongelukkefonds, wat tussen 2020 en verlede jaar reeds bedrieglike eise ter waarde van 2,6-miljard-rand uitgesnuffel het, is verbind om steeds pogings teen bedrog te steun.
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, het aan die raadspeaker geskryf om die ANC se mosie van wantroue in hom te probeer keer. In hofstukke wat aan die speaker gerig is, voer Brink se prokureurs aan dat hy nie genoeg tyd gegun is om voor te berei nie, en sê hy het die reg op ‘n billike geleentheid om stappe te doen om homself voldoende te verdedig. ActionSA hersien tans sy posisie in die veelpartyhandves, terwyl die DA, VF Plus en IVP hul verbintenis tot die koalisie herbevestig het.
# Israel sê hy is vasbeslote om op te tree teen wat hy bestempel as die bedreiging van Palestynse militante in die Wesoewer. Minstens tien Palestyne is in Jenin en Tubas dood, in ‘n Israelse teenterrorisme-operasie. Die Palestynse Owerheid se ministerie van Buitelandse Sake sê die toename in Israelse militêre operasies, saam met die oorlog in Gaza, sal tot haglike gevolge lei. Minstens 652 Palestyne is deur Israel in die Wesoewer doodgeskiet sedert die oorlog in Gaza byna elf maande gelede begin het.
# Krieket: Die Protea-vroue en Pakistan kom volgende maand teen mekaar te staan in ‘n reeks van drie T20-wedstryde terwyl hulle voorberei vir die Wêreldbeker, wat vroeg in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Die wedstryde word van die 16de tot die 20ste in Multan gespeel. Die Proteas reis daarna na die Emirate waar hulle op 4 Oktober teen die Wes-Indiese Eilande speel, gevolg deur groepskragmetings teen Engeland, Skotland en Bangladesj. Die eindstryd is op die 20ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-113-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….