Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 26 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi het ’n amnestietydperk van twee weke aangekondig waarin prokureurs bedrieglike eise weens mediese nalatigheid kan terugtrek sonder vrees vir vervolging. Dit vorm deel van ‘n landwye poging om te keer dat oneerlike praktisyns die staat en pasiënte miljarde rand kos.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die liggaam van die eienaar van Pick n Pay in Standerton, Reneé Lea is saam met van haar gesteelde besittings in haar voertuig in Moreletapark in Pretoria gevind. Sy is vermoedelik in haar huis oorval.
Dan skryf die koerant oor Hoërskool Garsfontein se oorwinning van 36-30 oor Waterkloof Hoërskool in die eindstryd van die Noord-Vaal Beker-kompetisie.
En laastens is daar nuus oor die arrestasie van 11 lede van ‘n sindikaat wat mense deur Facebook in lokvalle gelei en beroof het.
# The Star en Pretoria News:
Berig soos Business Day oor Motsoaledi se amnestie.
En skryf die Valke is gelukkig met hul deurbrake in ondersoeke en vervolgings wat daaruit volg.
# Sowetan:
Berig oor die verlies van nóg twee lewens in ‘n geboubrand in Johannesburg. Die koerant skryf die burgemeester, Dada Morero besoek die perseel, maar niks gebeur verder nie.
# En The Citizen:
Skryf die minister van Landbou, John Steenhuisen het ‘n ondersoek van stapel gestuur na ‘n bedrag van 500-miljoen-rand wat skynbaar in die Departement van Landbou verdwyn het. Dit was vir ‘n entstofaanleg vir diere bedoel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met die dood van ‘n bekende egpaar van Villiers. Die eienaars van Flo-Scan Technologies in die dorp, Willie en Beulah du Toit is Vrydagaand buite die dorp in ‘n motorongeluk dood.
Tweedens word berig oor die gedenkdiens vir die redakteur van Volksblad, Dirk Kok wat die naweek plaasgevind het.
En laastens skryf die koerant die heining wat om die speelveld van die Toyota-stadion in Bloemfontein opgerig is, is daar om toeskouers en spelers te beskerm.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Business Day ook oor die amnestie vir bedrieglike mediese eise.
Dan skryf die koerant ‘n man wat na bewering die Alfonso Arries Primary School beroof het, is deur die gemeenskap aangerand en die polisie moes ingryp om sy lewe te red.
Voorts word berig dit kan nog twee weke neem voordat krag aan groot dele van Gqeberha herstel sal word nadat skade aangerig is deur stormsterk rukwinde.
En laastens is daar nuus oor die veldbrand in die Hogsback-gebied wat onder beheer is.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die minister van Gesondheid se amnestie-periode.
En berig die Valke is op soek na verdagtes in ‘n mislukte transitorooftog.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig soos Die Burger ook oor die skade aan die kragnetwerk in Gqeberha.
En tweedens skryf die koerant oor planne om die golwe in bedwang te bring wat skade aanrig op Gqeberha se noordelike kuslyn .
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Valke het groot deurbrake teen gewapende rowers in KwaZulu-Natal gemaak. In een geval is drie sekerheidswagte tot 190 jaar gevonnis vir hul aandeel in ‘n rooftog aan die Suidkus.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Heldedag word vandag in Namibië herdenk en die koerant sal môre weer verskyn.