Nuus 06:00
BULLETIN 26 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke maak beduidende vordering met die arrestasie van verdagtes in hoëprofielsake
# Die ANC verwerp berigte dat hy sy KwaZulu-Natalse provinsiale uitvoerende komitee se magte gestroop het
# En motorsport: Lando Norris wen die Nederlandse Grand Prix
# Die hoof van die Valke, Godfrey Lebeya, sê beamptes het aansienlike vordering gemaak met die aankeer van individue wat betrokke is by hoëprofielsake, om aanspreeklikheid en geregtigheid vir die slagoffers te verseker. Lebeya het mylpale uiteengesit wat gedurende die eerste kwartaal van die 2024/25-boekjaar behaal is. Hy sê die inhegtenisnemings was gerig op mense wat betrokke was by ernstige korrupsie, bedrog, geldwassery, polisiemoorde en transito-rooftogte. Altesaam 673 verdagtes het reeds in die hof verskyn:
# Die regering het planne bekendgemaak om ‘n opgedateerde Geïntegreerde Hulpbronplan vir Elektrisiteit teen die einde van die jaar te publiseer. Daar word ook beplan om die eerste Geïntegreerde Energieplan teen middel-2025 af te handel. Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham, het hierdie tydlyne in die parlement bekendgemaak. Sy sê met die finale Geïntegreerde Hulpbronprogram 2024 sal daar omvattende raadpleging met die publiek en belanghebbers wees voor die goedkeuring, met die klem op verbeterde openbare skakeling vir die Geïntegreerde Energieplan.
# Die ANC het bewerings ontken wat in ‘n Sunday Times-artikel gemaak word dat sy nasionale werkkomitee die KwaZulu-Natalse provinsiale uitvoerende komitee van sy magte gestroop het. Die werkkomitee, bestaande uit van die ANC se topsewe amptenare insluitend president Cyril Ramaphosa, was op ‘n feitesending om vas te stel waarom die party sy meerderheid in KwaZulu-Natal verloor het. Die ANC sê hy het ‘n bestaande praktyk om skriftelike memorandums aan sy strukture uit te reik oor besluite wat geneem is. Sulke memorandums word met persverklarings aangevul.
# Die hoofaanklaer van die Internasionale Strafhof het ‘n beroep op regters gedoen om dringend te beslis oor sy versoek vir lasbriewe vir die inhegtenisneming van die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, die Hamas-leier, Yahya Sinwar, en andere. Karim Khan het ‘n aansoek om lasbriewe ingedien teen diegene wat by die Hamas-geleide aanval van 7 Oktober in Israel betrokke was, en Israel se oorlog daarna in Gaza. Volgens Khan is die leiers strafregtelik verantwoordelik vir beweerde oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. Hy vra ook die regters om enige teenaansoeke te verwerp.
# Motorsport: Lando Norris van McLaren het die Nederlandse Grand Prix gewen, die tweede Formule Een-oorwinning van sy loopbaan. Red Bull se Max Verstappen was tweede gevolg deur Ferrari se Charles Leclerc. Hy is die eerste McLaren-jaer wat verskeie oorwinnings in een seisoen behaal sedert Lewis Hamilton en Jenson Button in 2012. Sy spanmaat Oscar Piastri het vierde geëindig en Ferrari se Carlos Sainz vyfde. Norris het Verstappen se voorsprong in die jaerskampioenskap tot 70 punte verminder met nege wedrenne oor. Hy sê hy het die wedren geniet:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-261-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, en die visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand Zebulon Vilakazi, open vandag amptelik die nuwe vleuel-uitbreiding van die Wits Roy McAlpine Brandwonde-eenheid by die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal in Diepkloof, Soweto. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê meer as 700 pasiënte – beide volwassenes en kinders – word jaarliks met ernstige brandwonde by die eenheid vir hoësorg opgeneem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….