Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi het sy kantoor se begroting met 24-persent tot 671-miljoen-rand teruggesny. Hy sê dit is om diensleweringsdepartemente toe te laat om toegang tot meer hulpbronne te kry gedurende hierdie moeilike fiskale tye.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die doen en late van die plunderaars van die VBS-bank. Die koerant vergelyk diegene wat die bank se fondse geplunder het met haaie en krokodille.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met ‘n hooffoto van Tatjana Smith in die swembad kort nadat sy haar silwer medalje losgeswem het.
Dan word berig die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille sê die ANC is besig om te verkrummel en die regering van nasionale eenheid is eintlik ‘n groot koalisie tussen die DA en die ANC.
En laastens skryf die koerant die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson sê die regering dra by tot misdaad met sy geboue wat leegstaan.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die verskille tussen die ANC en DA oor die regering van nasionale eenheid verskerp.
En berig die einde van die stryd tussen die ANC en MK-party oor die MK-handelsmerk in nog nie in sig nie.
# Sowetan:
Berig oor die onwettige mynsindikaatleier, Bethuel Ngobeni wat na bewering 4,2-miljoen-rand in sewe maande uitgegee het. Die koerant skryf motorhandelaars, beamptes van Binnelandse Sake en mynreguleerders sal as getuies geroep word in die verhoor wat vandag begin.
# En The Citizen:
Skryf daar is ernstige kommer oor lugvaartveiligheid in Suid-Afrika en kenners het ‘n dringende waarskuwing aan die regering gerig.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig oor die moord op Jayson Afrique van Kimberley wat nege keer deur die venster van sy bakkie geskiet is. Volgens ‘n vriend van hom was dit ‘n beplande sluipmoord.
Die koerant het dieselfde hooffoto as Beeld.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê mense moet nie omgekrap raak as die DA se Hellen Zille die ondergang van die ANC bepleit nie – dis haar werk. Ontleders is egter van mening Zille probeer doelbewus onmin saai.
En tweedens gee die koerant ‘n uiteensetting van Suid-Afrika se medaljes oor die jare by die Olimpiese Spele wat Tatjana Smith een van die land se voorste Olimpiese atlete ooit maak.
# En Cape Times:
Skryf die regering van nasionale eenheid is ‘n front vir ‘n DA-ANC-koalisie.
En berig oor die Departement van Basiese Onderwys wat rassisme in skole voor die deur van ouers lê.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid het Plettenbergbaai se lughawelisensie opgeskort, wat alle beplande vlugte gestaak het.
En tweedens skryf die koerant die konstruksie-mafia in Nelson Mandelabaai het die multimiljoen-rand R-335-padbouprojek van Motherwell na Addo gestop en eis nou 450-duisend-rand per maand aan beskermingsfooie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf Zille sê die regering van nasionale eenheid was ‘n leuen. Die koerant berig ‘n politieke ontleder voorspel ‘n donker toekoms vir die verbintenis.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n moratorium op die aankoop van enige staatsvoertuie het ’n verwoestende uitwerking gehad op die bestaande oorgebruikte vloot. Die moratorium se doel was om aankope van voertuie te beperk as deel van besparingsmaatreëls.
En tweedens skryf die koerant daar lê ‘n besending van 400 brille by die Eros-lughawe in Windhoek wat bestem is vir minderbevoorregtes in Tsumeb. Die Namibiese Inkomstediens wil dit egter nie vrystel nie.