Nuus 06:00
BULLETIN 2 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tatjana Smith wen silwer in Parys om een van Suid-Afrika se voorste Olimpiese atlete ooit te word
# Die ministerie van Justisie vra vir streng optrede na bewerings van rassisme in skole
# En die VSA en Rusland voer ‘n geskiedkundige uitruiling van gevangenes uit
# Olimpiese Spele: Die swem-ster Tatjana Smith het silwer in die 200 meter-borsslag vir vroue in Parys gewen en amptelik een van Suid-Afrika se beste Olimpiese atlete ooit geword. Sy is deur die Amerikaner Kate Douglass gewen met Tes Schouten van Nederland in die derde plek. Smith het vroeër die week goud in die 100 meter-borsslag gewen. Haar oefenmaat Kayleen Corbett het sewende geëindig. In die 200 meter-rugslag vir mans het Suid-Afrika se Pieter Coetzé sewende geëindig. Smith sê dit was ‘n harde stryd teen Douglass:
# Die DA sê die onlangse ondertekening van die Wet op die Onafhanklike Polisie-Ondersoekdirektoraat slaag nie daarin om voldoende parlementêre toesig te verseker nie, en ook nie onafhanklikheid vir die aanstelling van ‘n uitvoerende direkteur van OPOD nie. Die party voer aan die wet voldoen nie aan die voorskrif van die Konstitusionele Hof vir deeglike toesig om die onafhanklikheid van die uitvoerende direkteur te waarborg nie. ‘n Woordvoerder van die DA, Ian Cameron, stel ‘n onafhanklike paneel vir keuringsprosesse voor, onder leiding van ‘n afgetrede regter:
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling veroordeel bewerings van rassisme by Pretoria High School for Girls, Table View High en Pinelands High in die Wes-Kaap. Bewerings sluit in afstootlike WhatsApp-boodskappe, die gebruik van rassistiese opmerkings en ‘n slaweveiling-voorval. Die departement is onthuts oor die voorvalle en dring aan op streng dissiplinêre maatreëls. Hulle beoog om rassisme en haatmisdaad deur middel van die nasionale aksieplan te bekamp, in samewerking met betrokke liggame om die kwessies aan te spreek en grondwetlike regte te bevorder.
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het werk gemaak van die pleegsorgagterstand, met nuwe maatreëls wat ‘n pleegsorg-moniteringsinstrument insluit. Hierdie webgebaseerde stelsel volg en bestuur pleegsorgplasings en hernuwings. Onlangse regshervormings, soos die Wysigingswet op Maatskaplike Bystand en die Wysigingswet op Kinders, het kinderbeskerming versterk. Die direkteur van Kinderbeskerming by die departement, Neliswa Cekiso, wys op hierdie vorderings om behoorlike sorg vir kwesbare kinders te verseker.
# Die Vereniging vir Staatsamptenare sê daar moet onmiddellik opgetree word om veiligheidsprotokolle vir leerdervervoer en spooroorgange te verbeter. Dit volg nadat ses kinders dood is toe ‘n trein die bus waarmee hulle vervoer is Woensdag by Wonderfontein buite Middelburg in Mpumalanga, getref het. Voorlopige aanduidings is dat die busbestuurder die spoorlyn probeer oorsteek het toe die trein te naby was. Die vereniging sê verbeterde opleiding vir bestuurders verantwoordelik vir die vervoer van leerders is ook noodsaaklik.
# Vier Amerikaanse burgers is onder die 16 gevangenes wat Rusland vrygelaat het as deel van die grootste uitruil van gevangenes tussen die twee lande sedert die Koue Oorlog. Die groep sluit in die Amerikaanse veteraan Paul Whelan en Wall Street Journal-verslaggewer Evan Gershkovich. Agt Russe wat in die VSA, Noorweë, Slowenië, Pole en Duitsland aangehou is, insluitend die veroordeelde Russiese sluipmoordenaar Vadim Krasikov, is in ruil vrygelaat. President Joe Biden sê hierdie ooreenkoms is ‘n oorwinning vir diplomasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-431-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-445-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….