Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Nasionale Tesourie gaan voort met planne wat privaat beleggings in die elektrisiteitsnetwerkinfrastruktuur moontlik sal maak. Die direkteur-generaal van die Tesourie, Duncan Pieterse sê die regering het saam met internasionale finsnsieringsagentskappe gewerk om opsies te ontwikkel.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ‘n graad 12-leerder van die Pretoria High School for Girls is geskors weens haar beweerde betrokkenheid in ‘n video op ‘n gewraakte rassistiese WhatsApp-groep. Die koerant skryf die Menseregtekommissie wil ingryp by skole waar daar rassevoorvalle voorkom.
En tweedens skryf die koerant die Suid-Afrikaanse driekamp-atleet, Vicky van der Merwe sê die gehalte van die Seinerivier se water pla haar nie. Sy het al in vuiler water deelgeneem.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die veroordeelde verkragter en moordenaar, Thabo Bester se klagtes teen sy aanhouding is deur die hof verwerp.
En berig die EFF het Mej. Suid-Afrika, Chidimma Adetshina verdedig nadat dit aan die lig gekom het dat hoewel sy in Soweto gebore is, sy van Nigeriese afkoms is.
# Sowetan:
Berig ‘n man wat na bewering vroue verlei en hul dan uit hul geld bedrieg, Felix Mugi word deur die polisie gesoek.
# En The Citizen:
Skryf die partye wat by die regering van nasionale eenheid betrek is laat die ANC deur hul optrede as lui voorkom.
En berig oor die beweerde koop van stemme waarby die Gautengse premier, Panyaza Lesufi betrek word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Huaweng-busdiens van Mangaung waaraan reeds meer as ‘n miljard-rand bestee is, het ná 10 jaar slegs nege busse in bedryf. Die metro vra nou nog geld om kaartjiekantore te huur.
Dan skryf die koerant die uitspraak in die moordsaak teen Armand Opperman word vandag gelewer. Hy het na bewering die oudveeboer Lance da Silva in Mei verlede jaar doodgeskiet.
En laastens is daar ook nuus oor die verwerping van Thabo Bester se vele eise ten op sigte van sy aanhoudingsomstandighede.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Menseregtekommissie wil ingryp by Wes-Kaapse en Gautengse skole waar rassitiese voorvalle voorkom. Die kommissie wil ingevolge die Wet op die Menseregtekommissie en ander wetgewing betrokke raak en het hy reeds met ondersoeke by skole begin.
Vervolgens skryf die koerant die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging vir Blindes gaan die taximaatskappy UBER voor die Gelykheidshof daag omdat hy nie gidshonde in sy voertuie toelaat nie.
En laastens is daar nuus oor die Yorkie Chloë van Roodepoort wat verdwyn het. Die eienaar is nie seker of ‘n uil haar gevang het of sy gesteel is nie.
# En Cape Times:
Skryf Wes-Kaapse opposisiepartye sê die premier Alan Winde maak net beloftes wat hy nie kan uitvoer nie.
En berig die provinsie se Onderwysdepartement word beskuldig dat hy ‘n onderwyser beskerm wat na bewering die k-woord gebruik het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oostelike Provinsie Skeidsregtersvereniging sê hy gaan nie meer skeidsregters vir skoolwedstryde beskikbaar stel nie want die wedstrydbeamptes is slagoffers van verbale en fisiese aanvalle.
En skryf tweedens die bekende Anything Wheels-motorskou gaan in die Oos-Kaap aangebied word.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli het onderneem om die provinsie se ekonomie reg te ruk.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig wyle Hans-Jörg Möller se minderjarige kinders het in die hof getuig hoe hulle pa se moord hulle geraak het. Sy weduwee, Carol-Ann Möller, het ook getuig ter verswaring van die vonnisse van vier mans wat skuldig bevind is.
Dan skryf die koerant die staat het die maatskappy wat maaltye aan vyf staatshospitale in die Zambezi- en Erongostreek verskaf, hof toe geneem nadat dit glo geweier het om sy dienste op te skort en die persele te ontruim.
Een laastens is daar nuus oor Namibië se Women’s Game Jam, ‘n speletjie wat binnekort wêreldwyd bekend gestel gaan word.