Nuus 06:00
BULLETIN 1 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof in Durban sal vandag die ANC se appèl teen die MK-party-handelsmerkuitspraak aanhoor
# Die Lugmag ondersoek luiperdaanvalle op twee van sy lede in Hoedspruit
# En Olimpiese Spele: Drie Suid-Afrikaanse swemmers haal die eindronde
# Die Hooggeregshof in Durban sal vandag die ANC se aansoek om verlof tot appèl aanhoor teen die handelsmerkuitspraak van die MK-party. Die hof het in April die ANC se bod van die hand gewys dat die MK-party nie meer die naam en logo van sy ontbinde militêre vleuel, uMkhonto weSizwe, mag gebruik nie. Die ANC het die party daarvan beskuldig dat hy die Wet op Handelsmerke oortree. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die regter het gefouteer en nie die handelsmerkargumente wat voor die hof geplaas is, in ag geneem nie, maar eerder politieke speletjies gespeel.
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat kan nou ondersoek instel na ernstige oortredings deur polisiebeamptes, beide aan diens én van diens af. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa die Wysigingswetsontwerp op OPOD bekragtig het, wat opgestel is na die hersiening van die 2011 Wet op OPOD en ‘n uitspraak deur die Konstitusionele Hof. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die wet laat sekerheidsklaring voor indiensneming toe vir OPOD-personeel en brei hulle magte uit om ondersoeke na polisieverwante sterftes en verkragtings in te sluit:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het die instelling van verskeie eenhede aangekondig om die provinsie se infrastruktuur te beskerm. Lesufi het sy begroting vir die Departement van Veiligheid en Sekerheid ter tafel gelê en die stigting aangekondig van ‘n anti-grondbesettingseenheid en nog een vir die beskerming van die infrastruktuur van Eskom en Rand Water. Daar is ook ‘n nuwe eenheid teen kabeldiefstal en een teen die konstruksiemafia:
# Die Suid-Afrikaanse Lugmag ondersoek twee afsonderlike luiperdaanvalle op sy lede by die Hoedspruit-basis in Limpopo. ‘n Soldaat is aangeval op ‘n oggenddraftog en nog een terwyl hy in die middag huis toe gestap het. Die woordvoerder Donavan Chetty sê die basis lê in die opvanggebied van die Krugerwildtuin en sulke ontmoetings is nie buitengewoon nie, maar dit gebeur gewoonlik nie sonder rede in daglig met ‘n nagdier nie. Die twee soldate het meesal krapwonde opgedoen.
# Iran is vasbeslote om die sluipmoord op Hamas se politieke leier, Ismail Haniyeh te wreek nadat hy gister in Teheran dood is. Haniyeh het na die Iranse hoofstad gereis vir die inhuldiging van die land se nuwe president, Masoud Pezeshkian. Hamas en Iran het Israel die skuld gegee vir die aanval. Iran se staatshoof, Ayatollah Ali Khamenei, sê hulle sal seker maak Israel is spyt oor hul lafhartige optrede. Die Amerikaanse minister van Verdediging, Lloyd Austin glo egter ‘n uitgebreide oorlog kan vermy word, ten spyte van die wraakdreigement:
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaners Tatjana Smith en Kaylene Corbett is deur na die vroue se 200 meter-borsslag-finaal in Parys. Smith was tweede in haar halfeindronde-uitdun, en is ‘n stap nader aan dubbele goud nadat sy vroeër die week die 100 meter-borsslag gewen het. Smith se oefenmaat, Kaylene Corbett, was ook tweede in haar halfeindronde-uitdun en ʼn kortkop agter die Nederlander, Tes Schouten. Intussen het Pieter Coetzé die mans se 200 meter-rugslag-finaal gehaal nadat hy tweede was in sy halfeindronde-uitdun wat die Switser, Roman Mityukov, gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-688-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-445-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….