Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Julie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die bedryfsreguleerder van mediese skemas het die Pretoriase Hooggeregshof se besluit betwis om die voorlopige kuratorskap op die Suid-Afrikaanse Poskantoor se mediese skema, Medipos, op te hef. Die reguleerder sê die regter het fouteer en moes die kuratorskap bevestig het.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Blitsbokke het Saterdag vir meer as net hulself gespeel toe hulle die bronsmedalje in die sewesrugby vir mans in ’n vol Stade de France verower het. Die bronsmedalje wat die span op die Olimpiese Spele verower het, kan volgens die span help dat meer rugbyspelers in die toekoms dit oorweeg om sewesrugby te speel.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Suid-Afrika se intelligensiedienste is onder druk ná die ontdekking van ‘n Libiese opleidingskamp in Mpumalanga.
En berig tweedens die ANC gaan na wat berig word dié week vir Jacob Zuma skors.
# En Sowetan:
Berig die plaaslike gemeenskap naby die vermeende Libiese kamp in Mpumalanga sê die soldate was moeilikheidmakers en het by plaaslike drinkplekke oor meisies baklei.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ook oor die Blitsbokke se oorwinning.
Dan skryf die koerant daar is tans geen ontwikkeling in Winburg nie as gevolg van die vermeende inmenging van ANC-kaders.
En laastens is daar ‘n berig oor die afsterwe van die koerant se redakteur, die 56-jarige Dirk Kok, aan pankreaskanker.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die 16-jarige Ethan Bakkes van die Worcester Gimnasium en sy ma Jacque wat in ‘n motorongeluk op die N1 by die Du Toitskloofpas dood is. Nog ‘n leerder is in die ongeluk beseer.
Dan het die koerant dieselfde berig as Beeld en Volksblad oor die Blitsbokke.
En laastens skryf die koerant hoewel minder reën vir die Wes-Kaap voorspel word, sal dit steeds baie koud wees.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Groen Skerpioene in die Oos-Kaap wat omgewingsverwante sake ondersoek se begroting is ingrypend gesny.
En skryf werknemers van die Nelson Mandelabaai Geïntegreerde Openbare Vervoerstelsel het as gevolg van ‘n finansiële probleem nog nie hul salarisse vir Julie ontvang nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met die ANC se besluit om Zuma te skors.
Die koerant skryf ook oor twee lede van die EFF wat in KwaZulu-Natal geskiet is.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig daar is kommer oor die sekerheidsmaatreëls by die stad se munisipale raadskantore.
En skryf kenners is bekommerd oor ‘n ongekende droogte wat Suid-Afrika kan tref.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig boere is op hul knieë weens die versengende droogte. Vee- en wildvrektes neem steeds toe, en daar is ‘n ernstige gebrek aan weiding en ‘n krisis met die invoer van veevoer.
Tweedens skryf die koerant die inwoners van die informele nedersetting Havana sê hulle het sedert 2016 nie water, krag of rioolstelsels wat ten volle werk nie.
En laastens word berig die voormalige minister van Justisie, Sacky Shanghala beweer ‘n ondersoeker van die Namibiese Teenkorrupsiekommissie vra getuies in die Fishrot-saak om hul verklarings te verander.