Nuus 06:00
BULLETIN 29 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan Jacob Zuma volgens berigte die week skors
# ActionSA spreek sy kommer uit oor Suid-Afrika se intelligensie-mislukkings
# En Olimpiese Spele: Gemengde welslae vir Span SA
# Oudpresident Jacob Zuma sal volgens berigte dié week uit die ANC geskors word. Luidens die bevindings van die Nasionale Tugkomitee wat uitgelek het, is Zuma skuldig bevind aan die oortreding van die party se grondwet en kan geskors word. Hy is aangekla van wangedrag nadat hy in Desember verlede jaar in die openbaar gesê het hy sal hom in die Mei-verkiesing beywer en stem vir die MK-party. Zuma het 21 dae om by die Nasionale Tug-appèlkomitee te appelleer. Die ANC het nie die berigte bevestig nie.
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba is erg bekommerd oor intelligensie-mislukkings in Suid-Afrika wat weer onthul is deur die arrestasie van 95 Libiese militêre personeel in Mpumalanga. Mashaba wil hê die aanbevelings van die hoëvlakverslag oor die Staatsveiligheidsagentskap moet ingestel word. Hy het ook ‘n beroep gedoen vir ‘n intelligensie-inspektoraat en ‘n beperking op politieke inmenging. Hy sê dit is noodsaaklik dat Suid-Afrikaners beskerm word en die uitbreiding van misdaadsindikate moet beveg word:
# Die DA in Gauteng sê hy het aan die Openbare Beskermer geskryf om dringend ondersoek in te stel na die verdagte aanstelling van Arnold Lesiba Malotana as die hoof van die provinsiale Departement van Gesondheid. Jack Bloom van die DA sê tydens ‘n vergadering van die provinsiale wetgewer se gesondheidskomitee het die LUR vir Gesondheid en Welsyn, Nomantu Nkomo-Ralehoko, aangekondig dat Malotana nie meer die waarnemende hoof van die departement is nie, nadat hy twee maande gelede permanent aangestel is:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Onderwys, Fundile Gade, het alle leerder-wangedrag, insluitend afknouery, ten sterkste veroordeel. Die departement se woordvoerder, Malibongwe Mtinka, sê ‘n graad 10-leerder is Vrydag dood na hy deur ‘n graad 9-leerder buite die Rocklands Intermediate School in Kariega met ‘n mes in die nek gesteek is. Dit was na ‘n rusie terwyl hulle na hulle leerdervervoer gestap het. Die LUR besoek die bedroefde familie vandag:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het ‘n span van meer as 200 brandbestryders en bestuur ontplooi om te help met brandbestryding in die Alberta-provinsie in Kanada. Brande het dele van Alberta verwoes, insluitend byna die helfte van die geskiedkundige dorp Jasper, en sy omliggende nasionale park. Dit is die sesde ontplooiing deur ‘n Working on Fire-span in Kanada sedert 2015. Minister Dion George sê dié ontplooiing sal nie plaaslike brandbestryding belemmer nie, aangesien daar steeds meer as vyf-duisend brandbestryders plaaslik beskikbaar is.
# Olimpiese Spele: Dit was ‘n moeilike dag vir die Suid-Afrikaanse vrouerugby- en hokkiespanne in Parys. Die sewesrugbyspan het hul veldtog geopen met ‘n nederlaag van 34-5 teen Australië, gevolg deur ‘n slagting van 38-nul deur Ierland. Die vrouehokkiespan is naelskraaps 2-1 deur Australië verslaan. In die roei het Suid-Afrika se Christopher Baxter en John Smith tweede in hul uitdun geëindig om vir die halfeindronde te kwalifiseer. Intussen moes die gimnas Caitlin Rooskrantz aan die veelsydige kompetisie onttrek, nadat sy ‘n voetbesering tydens die vloeroefening opgedoen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-86-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-197-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-398-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….