Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Desember 2023:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig oor die Konstitusionele Hof se beslissing dat onafhanklike kandidate slegs ‘n duisend handtekeninge of 15-persent van die mense in die gebied waarin hulle verkiesbaar is nodig het om aan die verkiesing deel te neem.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die onsuksesvolle poging van die balju om beslag te lê op die ANC se bates ter delging van skuld van meer as 100-miljoen-rand aan Enzulweni Investments vir onder meer verskiesingsplakkate in 2019. Die ANC gaan nou in die Konstitusionele Hof appèl aanteken teen die beslagleggingsbevel.
Dan berig die koerant oor die gedenkdiens vir Magdaleen Prinsloo en haar dogter Ruzanne Weideman van Hartbeespoort. Prinsloo se man Paul Prinsloo is vroeër in verband met die moord in hegtenis geneem.
En laastens is daar nuus oor die Suid-Afrikaanse Lugmag se gedenkteken in Swartkop buite Pretoria wat onder vandale deurgeloop het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die balju se mislukte beslaglegging by die ANC se hoofkantoor.
En berig oudpresident Thabo Mbeki sê Suid-Afrika se ekonomie is besig om die hele Afrika af te trek grond toe.
# Sowetan:
Berig die geweld in Diepsloot het nou oorgespoel na die skole in die gebied. Leerders bring wapens skool toe om geskille te besleg.
# En The Citizen:
Skryf daar is talle vrae oor die 443 Zimbabwiese kinders wat by die Beitbrug-grenspos voorgekeer en teruggestuur is. Dit wil voorkom of die voorval nie verband hou met mensehandel nie, maar eerder dat die kinders ingesmokkel is na Suid-Afrika.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die mislukte beslaglegging op die ANC se bates.
En tweedens word berig die liggaam van die vermiste 16-jarige Machaka Radebe van Rocklands is met ‘n steekwond in haar rug in ‘n oop stuk veld gevind.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
Dan word berig oor ‘n gewapende roof by Leeukop waartydens twee stappers se oorlosies en selfone gesteel is.
En laastens skryf die koerant ‘n 35-jarige man is in hegtenis geneem vir die ontvoering van ‘n man in die Strand. Dit volg nadat die familie 150-duisend-rand as losprys betaal het.
# En Cape Times:
Skryf die ANC is steeds nie vrygestel van sy skuld van 150-miljoen-rand aan Enzulweni Investments nie. Die party het die balju gister verhoed om ‘n beslagleggingsbevel uit te voer.
En tweedens word berig die Suid-Afrikaners wat in Gaza vasgekeer was, is toegelaat om oor die grens na Egipte te vlug.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar kan Donderdag reeds ‘n besluit geneem word oor honderde jare se geskiedenis van Gqeberha. Die EFF in Nelson Mandelabaai eis volgens ‘n mosie voor die raad die onmiddellike verwydering van alle koloniale erfenisterreine, portrette en standbeelde regoor die metro.
En tweedens skryf die koerant oor die hartseer van die ouers van die 14-jarige Oyisa Breakfast wat die naweek in ‘n motorongeluk dood is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Ingonyama Trust oorweeg dit om die beleërde suikermaatskappy Tongaat Hulett oor te neem. Die trust gaan nou teen ‘n sakeman bie wat ook in die maatskappy belangstel.
# En Witness in Pietermaritzbug:
Berig die ANC in KwaZulu-Natal gaan poog om minderheidsgroepe in die provinsie se steun te werf vir volgende jaar se verkiesing.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as vyf-honderd Himbas van oral uit die Kunenestreek het by ’n nedersetting naby Epupa bymekaargekom om afskeid te neem van die legendariese oudsoldaat Koos Cunene Verwey. Hy is volgens Himba-tradisie begrawe.
En tweedens skryf die koerant twee mans wat teregstaan vir die moord op die egpaar Siegfried en Brunhild Riedel op hul plaas in die Gobabis-omgewing ses jaar gelede, het onskuldig gepleit. Hulle het na bewering die egpaar se huis afgebrand met hulle liggame steeds binne-in.