Nuus 06:00
BULLETIN 17 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie is gearresteer vir betreding by die beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap
# AfriForum dien ‘n minagting van die hof-aanklag teen Julius Malema in
# En rugby: Die Cheetahs oorleef ‘n geesdriftige aanslag deur die Blou Bulle
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê drie mense wat probeer het om ongemagtigde toegang tot die 46ste beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Durban te verkry, is in hegtenis geneem. Twee Kongolese burgers is Saterdag in hegtenis geneem nadat hulle probeer het om toegang tot die lokaal te verkry met akkreditasie wat nie aan hulle uitgereik is nie. Verlede week is ‘n Zimbabwiese burger ook in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om akkreditasie te bekom onder die dekmantel van ‘n uitvoerende kunstenaar. Nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ontwrigting sal nie geduld word nie:
# AfriForum het ‘n aansoek vir minagting van die hof teen die EFF en sy leier, Julius Malema, by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien. Die organisasie se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê die aansoek kom ná die EFF en Malema se hernieude oproepe tot onwettige grondbesetting, ten spyte van ‘n hofbevel wat AfriForum in 2017 verkry het wat hulle verbied om sulke uitlatings te maak. Hy sê tydens ‘n openbare EFF-lesing by die Universiteit van Limpopo verlede maand het Malema verwys na jongmense wat eendag ‘n plaas in Stellenbosch sal betree en beset:
# Die MK-party vra ‘n omvattende evaluering van die ondersteuning wat aan vrouesport in Suid-Afrika verskaf word. Hy sê sportsukses vereis volgehoue en betekenisvolle insette, insluitend voldoende befondsing, gehaltefasiliteite, professionele voorbereiding, gestruktureerde ontwikkelingsprogramme, tegniese kundigheid, mediese en welsynsondersteuning, sowel as toeganklike roetes vir vroue en meisies om aan sport deel te neem en te vorder. Die party sê die regering en sportowerhede moet bepaal of die hulpbronne, befondsing en ontwikkelingsgeleenthede wat beskikbaar is vir vroue se nasionale spanne, voldoende, billik en volhoubaar is.
# Die DA in Tshwane sê president Cyril Ramaphosa se besoek aan Hammanskraal en die opening van twee boorgate in Kenana Gardens het niks gedoen om die grondliggende waterkrisis van inwoners op te los nie. Cilliers Brink van die DA sê huishoudings verduur steeds onbetroubare watervoorsiening ten spyte van die politieke trompetgeskal rondom die nuwe boorgate. Hy sê die Stad Tshwane moet die werk by die Klipdrift-verpakkingsaanleg voltooi:
# Minstens ses mense is die naweek in Rusland dood na een van Oekraïne se grootste lugaanvalle sedert die begin van die oorlog. In ‘n teenaanval na onlangse ballistiese missielaanvalle deur Moskou, het Kiëf een-duisend-478 hommeltuie en minstens nege kruismissiele afgevuur. ‘n Pakhuis wat aan die Russiese verspreidingsmaatskappy Wildberries behoort, nywerheidsaanlegte en raffinaderye is geteiken. Intussen het Russiese aanvalle op Oekraïne ook minstens sewe mense geëis en meer as 39 beseer. Beide lande het mekaar beskuldig dat burgerlikes geteiken word.
# Rugby: Die Cheetahs het die Blou Bulle met 62-52 op Loftus Versfeld verslaan om nader te beweeg aan ‘n plek in die Curriebeker-halfeindronde. Die Bulle was met rustyd 17-47 agter, maar het hard geveg tot die laaste minuut. Die Cheetahs kon egter die gashere se laat aanval weerstaan en het nege drieë teenoor die Bulle se agt gedruk om tweede op die punteleer in te skuif, net een punt agter die verdedigende kampioen, die Griekwas. Die Bulle het al vyf hul wedstryde verloor en lê onderaan die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-680-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-377-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….