Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA se eise kan die regering van nasionale eenheid ontspoor. Die party eis onder meer ministers in internasionale betrekkinge, energie en mynbou asook ‘n adjunkpresident.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die onderhandelinge oor die regering van nasionale eenheid. Die koerant berig die DA se eise vir 11 kabinetsposte is tans die grootste struikelblok. Die ANC sê hy kan nie dat een party die proses gyselaar hou nie en die IVP sê die onderhandelings is so te sê afgehandel.
En tweedens skryf die koerant oor die Johannesburg-dieretuin wat ‘n baba-kameelperd verwelkom het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die ANC het die inswering van Zizi Kodwa as parlementslid verdedig.
En tref tweedens ‘n vergelyking tussen Suid-Afrika se kabinet en kabinette in die res van die wêreld.
# Sowetan:
Berig die 47-jarige Pamela Selani is in die Hoogeregshof in Pretoria tot drie keer lewenslank gevonnis vir die moord op twee mans en haar seun oor ‘n aantal jaar. Dit het in die hof aan die lig gekom dat nog moordsake teen haar ondersoek word in die Oos-Kaap.
# En The Citizen:
Skryf hoewel daar berig word oor meningsverskille in die onderhandelinge oor die regering van nasionale eenheid, is die partye oortuig hulle is naby ‘n deurbraak.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld.
En skryf tweedens oor ‘n werker van die Bagamoya Wildlife Estate buite Bloemfontein, Mataka Jere wat dood is in ‘n leeu-aanval.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die berig oor die onderhandelinge oor die regering van nasionale eenheid.
En tweedens is daar nuus oor Janine van der Merwe van Kraaifontein wat goed aansterk nadat haar man, Joepie ‘n nier aan haar geskenk het.
# En Cape Times:
Skryf die onderhandelinge oor kabinetsposte dui op die krake in die regering van nasionalke eenheid.
En berig die aktivis Alan Boesak gee sy mening oor die RNE.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC in Nelson Mandelabaai het nadat opsies bespreek is, ontken dat die nasionale eenheidsregering ook op plaaslike vlak oorweeg word.
En skryf die behuising in New Brighton, Kwazakhele, Windvogel en Kleinskool is in ‘n haglike toestand. Tot 17 mense moet klein kamertjies deel om ‘n dak oor hul koppe te hê.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die magstryd tussen die DA en ANC kan lei tot die ineenstorting van die regering van nasionale eenheid.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die verhoor van die drie Zimbabwiese burgers wat beskuldig word van die moord op ’n negejarige meisie wat doodgeslaan en in ’n vullisdrom gegooi is, het in die Hoër Hof in Windhoek begin.
En skryf volgens die jongste navorsing van die Namibiese Instituut vir Beleidsnavorsing blyk dit dat die groen waterstofprojek na verwagting ’n ongekende vlak van leningswaarborge van die Namibiese regering sal vereis.