Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het sy verbintenis bevestig om saam te werk met alle politieke partye wat in die regering van nasionale eenheid dien. Met die inswering van Ramaphosa as staatshoof het die rand deur die 18-rand-vlak teenoor die dollar gebreek terwyl die JSE op rekordvlakke onderhandel het. Die koerant skryf die markte beskou die inkomende regering as positief.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens ook oor Ramaphosa se inhuldiging by die Uniegebou in Pretoria. Die koerant skryf die president het die versekering gegee die regering het kennis geneem van die boodskap wat die mense deur die verkiesing gestuur het. Hy het ook onderneem om die land te verenig.
En tweedens skryf die koerant die nuwe kabinet kan moontlik vanaand aangekondig word.
Laastens is daar ‘n berig oor die min staatshoofde wat die inhuldiging bygewoon het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die leier van die ACDP, Kevin Meshoe sê die regering van nasionale eenheid sal voor Kersfees in duie stort.
En berig Ramaphosa kon met sy inhuldigingstoespraak nie daarin slaag om die mense te beïndruk nie.
# Sowetan:
Berig ook oor die inhuldiging. Die koerant skryf Ramaphosa het onderneem om die land te verenig en saam te werk met enigiemand wat bereid is.
# En The Citizen:
Skryf Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat Suid-Afrika se krag in eenheid gesetel is.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met die inhuldiging.
En tweedens word berig die gemeenskap van Namibia Square buite Bloemfontein is steeds geskok oor die 28-jarige Nomathemba Ntombela wat deur pitbulls verskeur is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
En tweedens skryf die koerant die rowers wat by die voormalige speurhoof van die Wes-Kaap, Jeremy Veary se huis ingebreek het, het 170-rand, elektroniese toestelle en ‘n paar tekkies gesteel.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Meshoe se mening dat die regering van nasionale eenheid in duie gaan stort.
En berig die polisie het hul ondersoek na die George-gebouramp afgehandel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgemeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk het met die Valke vergader om sy kant te stel ná aantygings dat hy onwettig ‘n regsfirma aangestel het.
En tweedens is daar nuus oor die afsterwe van die bekende kunstenaar en lektor in beeldende kunste, professor Robert Brooks.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf KwaZulu-Natal se nuwe LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake, Musa Zondi het sy planne vir armoedeverligting in die provinsie bekend gemaak.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die BIG-koalisie sê politieke partye stel nie belang om die konsep van ’n basiese inkomstetoelaag in die komende nasionale en presidensiële verkiesing te verdedig nie.
Dan skryf die koerant die Namibiese jaggemeenskap maak hul harte en beursies oop vir die gesin van die professionele jagter, Gert van der Walt wat deur ’n olifantbul doodgetrap is.
En laastens word berig droogtehulp aan die meer as 341-duisend kwesbare Namibiese huishoudings sal meer as 482-miljoen-rand kos.