Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die IVP het ingestem om die ANC se voorgestelde regering van nasionale eenheid te steun. Dit bring Suid-Afrika ‘n stap nader aan ‘n nuwe hoofstuk van samewerkende regering wat ‘n balans moet vind tussen uiteenlopende ideologieë en gedeelde doelwitte vir die land se toekoms.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ook oor die IVP se besluit om deel uit te maak van die regering van nasionale eenheid. Die leier van die party, Velenkosini Hlabisa, sê daar is nie sprake dat hy president Cyril Ramaphosa se adjunk sal word nie.
Tweedens skryf die koerant oor die sardientjies aan die KwaZulu-Natalse suidkus waar mense hope vissies van die strand af skep.
En laastens word berig oor die instelling van ladingvermindering in Tshwane om kragtoevoer te reguleer.
# The Star en Pretoria News:
Skryf daar is ‘n moontlikheid dat Panyaza Lesufi sal terugkeer as Gauteng se premier.
En berig die stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo se hofaansoek om voort te gaan met sy parlementêre beëdiging is van die hand gewys.
# Sowetan:
Berig die mense van Suid-Afrika verwag van die regering van nasionale eenheid ‘n verbeterde ekonomie en wet en orde in die land.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die regering van nasionale eenheid.
En tweedens word berig ‘n paneel wat die Wilgenhof-koshuis by Universiteit Stellenbosch ondersoek het, het aanbeveel dat die koshuis gesluit moet word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die IVP se deelname aan die regering van nasionale eenheid en die paneelbeslissing oor Wilgenhof.
Dan berig die koerant ‘n belowende jong fietsryer, die 17-jarige Calib de Kock, is dood toe hy in ‘n oop motordeur in Seepunt vasgery het.
# En Cape Times:
Skryf dit is slegs ‘n dag voordat die Parlement open en die partye is gewikkel in die laaste onderhandelings.
En tweedens skryf die koerant ook oor die aanbeveling dat Wilgenhof gesluit word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is hoop op openbare en privaat sektor vennootskappe om Nelson Mandelabaai se hawens te verbeter, maar die situasie is steeds onaanvaarbaar met stukkende toerusting, verouderde masjinerie en lang toue.
En tweedens skryf die koerant die waarnemende president van die OP Rugbyunie, George Malgas, glo SA Rugby het hom in die steek gelaat deur nie op te tree teen die gewelddadige aanvalle op hom nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Lei met “BATTLE FOR THE SOUL OF KZN”. Die koerant skryf koalisieonderhandelings in die provinsie is op ‘n mespunt.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig ook oor die IVP se besluit om by die regering van nasionale eenheid aan te sluit.
En skryf inentings teen A-pokke sal binnekort beskikbaar wees.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig president Nangolo Mbumba het die vrylating van meer as twee-duisend gevangenes gemagtig. Dit sluit in die kwytskelding van veroordeelde oortreders en die opskorting van hul vonnisse.
En tweedens skryf die koerant die bekende kunstenaar Trudi Dicks is op 84-jarige ouderdom oorlede. Haar kunswerke was veral gewild onder versamelaars vanweë haar onkonvensionele en unieke styl.