Nuus 06:00
BULLETIN 13 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP kondig aan hy sal deel uitmaak van die regering van nasionale eenheid
# ‘n Nasionale ramptoestand word in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Vrystaat afgekondig
# En die VN beskuldig Israel en Hamas van oorlogsmisdade
# Die IVP het bevestig hy sal by ‘n regering van nasionale eenheid aansluit wat die ANC en die DA insluit, om die regering te versterk met ‘n gedeelde visie. Die president van die IVP, Velenkosini Hlabisa, het gistermiddag ‘n nuuskonferensie gehou ná koalisiegesprekke. Hy sê hulle sal deelneem aan ‘n regering van nasionale eenheid ter wille van die land en ‘n bestendige regering:
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, vra samewerking om die verspreiding van die A-pokke-virus te voorkom. Twee gevalle is bevestig in Gauteng en drie in KwaZulu-Natal. Die minister vra mense met vermeende simptome of dié wat kontak het met bevestigde gevalle om vinnig mediese hulp te kry. Jaqueline Weyer van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê samewerking kan plaaslike oordrag en voorkombare sterftes keer:
Cosatu doen intussen ‘n beroep op werkers om versigtig te wees ná die uitbreking van A-pokke. Simptome sluit in ‘n uitslag, koors en moegheid, met vel-tot-vel en seksuele kontak as belangrikste maniere van oordrag. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, raai werkers aan om voorsorgmaatreëls te tref, aangesien die besmetting ‘n ernstige bedreiging inhou:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thembi Nkadimeng, het ‘n nasionale ramptoestand afgekondig vir die gebiede in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat wat verlede week onder gure weer deurgeloop het. Twaalf mense is dood in KwaZulu-Natal en tien in die Oos-Kaap. Die minister sê 12-uur vanmiddag is die spertyd vir munisipaliteite en die Nasionale Tesourie om finale voorleggings oor die ramptoestand te ontvang.
# Israel en Hamas het sedert 7 Oktober verlede jaar ‘n reeks oorlogsmisdade en menseregteskendings gepleeg. Dit is volgens ‘n verslag deur ‘n kommissie van ondersoek wat in 2021 deur die Verenigde Nasies se Menseregteraad aangestel is. Die kommissie sê Israel se beweerde oorlogsmisdade sluit in hongersnood, lukrake aanhouding en die dood van duisende burgerlikes. Die kommissie beskuldig Hamas se militêre vleuel en ses ander Palestynse gewapende groepe ook van moorde, marteling, seksuele geweld en georganiseerde ontvoering.
# Rugby: Die Wallabie-losskakel Carter Gordon se skuif na rugbyliga word beskryf as ‘n swaar slag vir hoofafrigter Joe Schmidt. Hy gaan volgende jaar by Gold Coast Titans aansluit nadat Rugby Australië sy Super-span, Melbourne Rebels, aan die kompetisie onttrek het. Dit beteken hy het nie volgende jaar ‘n span nie. Die 23-jarige is steeds beskikbaar vir vanjaar se toetse, maar die Wallabies sal volgende jaar die reeks teen die Britse en Ierse Leeus moet aanpak sonder hulle spelskepper.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-263-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….