Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC se top-sewe, insluitend president Cyril Ramaphosa, sal die week onderhoude voer met moontlike premiers in die vyf provinsies waar die party meerderhede gekry het asook ander provinsies waar hy deel van koalisieregerings kan wees.
GAUTENG:
# Beeld:
Staan sy hele voorblad af aan die naweek se Comrades-marathon en die oorwinning van Gerda Steyn in ‘n rekordtyd van vyf-uur 49-minute en 46-sekondes.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die voormalige adjunkkommissaris van Noordwes, William Mpembe en die voormalige speurhoof, Gideon van Zyl dagvaar die polisie vir drie-miljoen-rand elk nadat hulle vroeër weens die Marikana-slagting in hegtenis geneem, maar nie vervolg is nie.
En berig die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema het ‘n beroep gedoen dat studente nie uit hul huisvestings gesit moet word nie.
# Sowetan:
Berig ‘n advokaat van Johannesburg, Arnold Mkhabela wat daarvan beskuldig word dat hy kliënte met hul Padongeluksfonds-eise bedrieg het is tussendtyds geskors terwyl die bewerings ondersoek word.
# En The Citizen:
Skryf die president van die ANC se Veteraneliga, Snuki Zikalala sê die ANC het stemme aan die MK-party afgestaan omdat hulle nie daadwerklik teen oudpresident Jacob Zuma opgetree het nie.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die week is deurslaggewend vir die regering van nasionale eenheid met die ANC wat sê sy deur staan oop vir enige party wat wil saamwerk. Die eerste sitting van die Parlement moet môre oor ‘n week plaasvind.
Dan skryf die koerant oor die hulde wat instroom na die afsterwe van die koerant se voormalige nuusredakteur, Mike van Rooyen.
En laastens is daar ook nuus oor Gerda Steyn.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Volksblad en skryf ook oor Gerda Steyn.
En tweedens is daar nuus oor ‘n voertuig wat by die Oceana Power-skibootklub in Kaapstad in die see gejaag het.
# En Cape Times:
Skryf Ajay en Anil Gupta is borgtog geweier in verband met hul beweerde bystand met die selfdood van die sakeman Satinder Singh Sawhney in Indië.
En berig die regering van nasionale eenheid kry steeds die wind van voor uit sekere oorde.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig herstelwerk aan ‘n kanaal in die Sondagsriviervallei is weens die swaar neerslae in die gebied opgeskort en dit kan tot gevolg hê dat die waterskema in duie kan stort.
En tweedens skryf die koerant oor die struwelinge in die Oostelike Provinsie Rugbyunie wat geweldadig geraak het met die waarnemende hoof, George Malgas wat gyselaar aangehou is.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die oorstromingslagoffers sit steeds sonder kragtoevoer.
En berig breedvoerig oor die Comrades-marathon.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering het ‘n nuwe lys van minimumlone vir werkers in die boubedryf in die Staatskoerant afgekondig.
En skryf tweedens die Hoërhof het bevind daar is bewyse dat ‘n prokureur oneerlik opgetree het en hy kan moontlik van die rol geskrap word. Hy het versuim om die hof in te lig dat hy skuldig bevind was aan bedrog, diefstal en omkopery.