Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC sê daar was nog geen wesenlike koalisie-onderhandelinge met dié politieke partye wat hulle ontmoet het nie. Die party se eerste rondte koalisiesamesprekings met die DA, IVP, EFF, Patriotic Alliance en die National Freedom Party het egter reeds begin.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei ook met die verwagte onderhandelinge tussen verskillende partye oor ‘n toekomstige Suid-Afrikaanse bestel. Die koerant skryf alle oë is op die ANC se NUK-vergadering wat vandag plaasvind.
En tweedens word berig oor die ysige weer en eerste sneeu van die seisoen wat die binneland bereik het. Dorpe in die Suid-Vrystaat het ook swaar winterreën gehad.
# The Star en Pretoria News:
Berig die Phala Phala-fiasko sal nie oornag verdwyn nie.
En tweedens skryf die koerant die gewese leier van die MK-party, Jabulani Khumalo is voor die Verkiesingshof deur partylede aangeval.
# Sowetan:
Berig die Zoeloe-koning, MisuZulu ka Zwelithini het ‘n beroep op die polisie gedoen om streng op te tree teen enigiemand wat ná die verkiesing wil moeilikheid maak.
# En The Citizen:
Lei met: “2024: THIS IS NO CODESA”. Die koerant skryf die voormalige DA-leier Tony Leon sê die politieke speelveld het ingrypend verander sedert 1994.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor die koalisiesamesprekings en berig ook oor die eerste sneeuval van die seisoen.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die vordering met koalisiesamesprekings.
En skryf tweedens oor die 22-jarige Shannon Diedericks van Vredenburg wat geskiet is pas nadat hy Sondag die kerk verlaat het waar hy gedoop is. Hy is tans buite gevaar in die hospitaal.
# En Cape Times:
Skryf oor die goeie nuus wat die maand vir verbruikers by petrolpompe wag.
En berig ook oor die MK-partylede wat hul voormalige leier wou aanval.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig politieke partye in die Oos-Kaap skarrel om die beste kandidate in die Nasionale Vergadering en die Bisho-wetgewer te plaas.
En tweedens skryf die koerant amptenare is besig om die omvang van die stormskade in Nelson Mandelabaai te bereken, maar inwoners is gewaarsku die reënweer is nie verby nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ontleders sê enige pogings om die MK-party uit die regering in KwaZulu-Natal te hou, sal ‘n ramp wees.
En berig tweedens oor die stormskade in die provinsie.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig ook oor die stormskade in die omgewing van Tongaat.
En skryf die ANC se samesprekings in die provinsie is in ‘n sensitiewe stadium.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die voormalige uitvoerende hoof van die Paaiekontrakteursmaatskappy se skuldigbevinding aan bedrog en korrupsie hou verband met twee privaat maatskappye wat betrokke was by die B1 City-ontwikkeling in Windhoek.
En tweedens skryf die koerant oor die inwoners van Elisemheim wat omgekrap is oor die rioolreuk in die gebied. Dit word vermoedelik veroorsaak deur die storting van onbehandelde, rou riool deur die munisipaliteit se Ujams-watersuiweringsaanleg.