Nuus 06:00
BULLETIN 4 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC NUK sal vandag vergader om koalisies te bespreek
# ‘n Tornado laat ‘n spoor van vernietiging in Tongaat, KwaZulu-Natal
# En krieket: Suid-Afrika begin die T20-Wêreldbeker met ‘n oortuigende oorwinning
# Die ANC se nasionale uitvoerende komitee sal vandag vergader om koalisies te bespreek. Die party het met slegs 40,2-persent van die nasionale stemme nie daarin geslaag om ‘n meerderheid te kry nie. Luidens berigte oorweeg senior ANC-leiers ‘n vertroue-en-voorsieningsooreenkoms. Dit behels dat die ANC ‘n minderheidsregering vorm, met opposisievennote wat saam met hom stem oor deurslaggewende besluite soos vertrouemosies en begrotings. Dit kan meebring dat die ANC alle nasionale uitvoerende posisies behou, maar parlementêre posisies, soos die speakerposisie prysgee.
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het ‘n gratis basiese elektrisiteitsprys van 194,40-sent per kilowatt-uur goedgekeur. Dit sal vanaf die eerste van volgende maand van krag wees. Hierdie tarief bepaal hoe munisipaliteite Eskom vergoed vir die lewering van gratis basiese elektrisiteit aan huishoudings wat kwalifiseeer vir noodsaaklike behoeftes soos ligte en waterverwarming. Nersa se woordvoerder, Charles Hlebela, sê die huidige maandelikse toelae van 50 kilowatt-ure word ook hersien weens veranderende ekonomiese toestande:
# Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit in die Oos-Kaap verwag vandag nog ontwrigtende reën wat tot oorstromings kan lei. Dit volg nadat agt mense in die metro dood is, terwyl reddingspanne steeds soek na ‘n vermiste 20-jarige slagoffer wat naby Dawn in Oos-Londen weggespoel het. Meer as een-duisend-300 inwoners is deur die oorstromings dakloos gelaat. Nelson Mandelabaai se burgemeester, Gary van Niekerk, sê die regering bied tydelike skuiling aan die slagoffers:
Intussen het ’n tornado Tongaat in KwaZulu-Natal gistermiddag getref en groot skade aan paaie en infrastruktuur aangerig. Die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sê bome is ontwortel, wat paaie versper en groot verkeersknope veroorsaak het. Verskeie voertuie is beskadig en tientalle inwoners moes uit hul huise vlug. Die departement sê hy wag op voorlopige verslae oor die omvang van skade.
# Oekraïne sê hy sal sy bondgenote aanmoedig om sy troepe meer vryheid te gee om militêre teikens in Rusland aan te val nadat Amerika beperkings gedeeltelik opgehef het op die gebruik van wapens wat die Weste geskenk het. Washington het Oekraïne verlede week beperkte toestemming gegee om Westerse wapens te gebruik om sommige militêre teikens op Russiese grondgebied aan te val. Die kwessie verdeel Oekraïnse ondersteuners, met party wat huiwerig is om Oekraïne toestemming te gee vir oorgrens-aanvalle, uit vrees dat hulle by direkte konflik met Moskou betrek kan word.
# Krieket: Anrich Nortjé het vier paaltjies ingeoes en vir Suid-Afrika ‘n oorwinning besorg in sy openingswedstryd by die T20-Wêreldbeker. Suid-Afrika het Sri Lanka met ses paaltjies in New York gewen. Sri Lanka is vir 77, hul laagste T20-totaal, uitgeboul nadat hulle die loot gewen en gekies het om eerste te kolf. In antwoord het Suid-Afrika die teiken bereik met 22 balle oor. Die speler van die wedstryd, Nortjé wat ná ‘n besering weer speel, sê dit is wonderlik vir die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-57-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….