Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Mei 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig meer as ‘n derde van die huishoudings in gemeenskappe wat die ANC steun is afhanklik van maatskaplike toelaes. Volgens ‘n huishoudelike opname deur Stats SA het die aantal begunstigdes van maatskaplike toekennings in die gemeenskappe van 13-persent in 2002 tot byna 40-persent in 2023 geklim.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Fokus hoofsaaklik op die verkiesing en lei met: “THE 50% ELECTION”. Die koerant skryf die ANC se meerderheid word vir die eerste keer in 30 jaar bedreig.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die pa van Centurion wat lyfstraf toegepas het op sy drie kinders het ‘n opgeskorte vonnis van 5 jaar ontvang. Daar is verskeie voorwaardes aan die opskorting gekoppel.
En tweedens skryf die koerant oor die 16-jarige Martinette Potgieter van Polokwane wat steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal is nadat haar blindederm verlede week gebars het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf soos Business Day oor die groeiende afhanklikheid van maatskaplike toelaes.
En tweedens word berig die man wat gevonnis is vir moord op die Wes-Kaapse student Uyinene Mrwetyana is tans terug in die hof weens die verkragting van ‘n 21-jarige vrou.
# Sowetan:
Berig die twee prokureurs Sarah Burger en Bradley Conradie, wat beweer hul arrestasies was polities gemotiveerd, is op borgtog vrygelaat. Luidens die klagstaat het hulle 78-miljoen-rand vir projekte by Fort Hare Universiteit ontvang sonder dat enige kontrak gesluit is.
# En The Citizen:
Skryf oor die Geslagsgeweld-wetsontwerp. Die koerant berig kenners meen die president moet optree en minder wette maak.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Vrystaat Cheetahs het reeds ver gevorder in hul onderhandelinge met ‘n internasionale ekwiwiteitsvennoot wat ‘n kapitaalinspuiting van miljoene rand vir die unie gaan beteken.
En tweedens skryf die koerant oor die Griekwas se voorbereiding vir die eindstryd in die SA Beker-reeks teen die Pumas.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Staan sy hele voorblad af aan die Kaapstadse seeramp waarin 11 vissers steeds vermis word. Die koerant berig oor ‘n gedenkdiens wat gehou is waartydens naasbestaandes Sea Harvest gekritiseer het omdat die soektog na hul geliefdes so vinnig opgeskort is.
En tweedens word berig die seun van een van die vermistes, Deon Kleinsmidt sê hy sal nie rus voor die oorsaak van die tragedie nie bepaal is nie.
# En Cape Times:
Skryf ook oor die vistreiler wat gesink het. Die koerant het met een van die oorlewendes gepraat.
En tweedens word berig talle onderwysorganisasies sien uit na die instelling van moedertaalonderwys in 2025.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die personeel by die Maclear-hospitaal is gedwing om onder uiters moeilike omstandighede te werk nadat swaar gewapende taxi-wagte die sekuriteit by die hospitaal oorgeneem het. Dit volg ná ‘n hernude uitbreking van taxi-geweld in die gebied.
En tweedens skryf die koerant die lidmate van verskillende kerke en die Ikamvelihle-polisie het ‘n gebedsmars teen misdaad onderneem.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die Zoeloekoning Misuzulu kaZwelethini sê die beloftes van wyle president Nelson Mandela oor die Zoeloe-koningshuis moet eerbiedig word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n voorlopige verslag oor die vliegtuigongeluk in Windhoek wat vroeër die maand die lewens van drie mense geëis het, dui daarop dat niemand die ongeluk kon oorleef nie.
En tweedens skryf die koerant prokureurs moet aanspreeklik gehou word indien hul werk wat deur kunsmatige intelligensie gedoen is, foutief is.