Nuus 8:00
BULLETIN 20 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# GOOD-party sê Suid-Afrika het ‘n misdaadgeweldkrisis wat gemeenskappe terroriseer
# Die African Transformation Movement eis ‘n 72 uur-soektog ná die slagting by ‘n taverne in Choba
# En, die Vrystaatse Landboudepartement bevestig een geval van bek-en-klouseer in Metsimaholo
# Die GOOD-party sê Suid-Afrika het ‘n misdaad-, bende- en geweldskrisis wat gemeenskappe terroriseer. Die party sê die massaskietery by ‘n taverne in die Shoba-informele nedersetting in Olievehoutbosch, Centurion, waarin vyf mense dood is, is vernietigend. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Suid-Afrika kan nie die patroon wat na vore kom, ignoreer nie. Die massaskietery kom meestal voor in apartheidstownships waar mense gedwing word om in krot-toestande te leef:
# Die African Transformation Movement doen ‘n beroep op die polisie en die ministerie om onmiddellik ‘n 72-uur-soektog van stapel te stuur om diegene verantwoordelik vir die Choba-taverneslagting aan te keer. Vyf mense is Vrydagaand in ‘n taverne in Olievenhoutbosch in Centurion doodgeskiet. Die ATM-woordvoerder, Zama Ntshona, sê die feit dat ongeveer tien gewapende persone ‘n openbare plek kon binnestorm en lukraak kon losbrand sonder om ‘n woord te sê, is ‘n regstreekse bedreiging vir openbare veiligheid en nasionale sekuriteit:
# Die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het ‘n geval van bek-en-klouseer in die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit bevestig. Die departement sê die bron van die uitbreking is gekoppel aan ‘n voerkraal in een van die aangrensende provinsies. Dit bring die totale aantal bevestigde gevalle in die Vrystaat op twee te staan. Die departement het die plaas onder kwarantyn geplaas, en alle plase binne ‘n radius van tien kilometer in kennis gestel en onder voorsorgkwarantyn geplaas totdat die oorsig voltooi is.
# Minstens 34 mense is dood en talle ander is nog steeds vermis nadat ‘n toeristeboot met 53 mense aanboord gedurende swak weer in Ha Long-baai in die noorde van Viëtnam omgeslaan het. Die meeste passasiers was Viëtnamese gesinne uit die hoofstad, Hanoi. Swaar reën belemmer die soektog na oorlewendes, maar minstens elf mense is lewendig uit die water gered. Die liggame van minstens agt kinders is tot dusver gevind. Ha Long-baai lok jaarliks miljoene toeriste en is ‘n Unesco-wêrelderfenisgebied.
En nou sportnuus:
# Rugby: Rassie Erasmus se krygers het die eerste fase van hul internasionale seisoen afgesluit met ’n oortuigende 55-10 oorwinning oor Georgië in Mbombela, op ‘n aand waar die Van der Merwe-naam vier keer op die Springbok-telkaart verskyn het. Nuweling Marnus van der Merwe het twee drieë aangeteken en so ook sy naamgenoot, die vleuel Edwill van der Merwe. Die Bokke het ‘n totaal van nege drieë ingeryg met Boan Venter, Canan Moodie, Kurt-Lee Arendse, Damian Willemse en Handre Pollard wat die res aangeteken het. Die Springbokke het nou ‘n drie weke blaaskans voor die eerste wedstryd in die Rugby Kampioenskapsreeks op 16 Augustus op Ellispark.
# En ten slotte sokker: Suid-Afrika het Senegal met vier strafdoele teen een verslaan in ‘n groepkwarteindronde-wedstryd in die Vroue-Afrika-beker by die Honneur-stadion in Oujda, Marokko. Na 120 minute se spel sonder enige doele het Andile Dlamini met uitstekende verdediging vir Desiree Ellis se span twee strafdoele gekeer, met Karabo Dhlamini, Tiisetso Makhubela, Gabriela Salgado en Bambanani Mbane wat koelkop die oorwinning in die strafdoelstryd beklink het. Banyana Banyana is nou deur na die halfeindronde en speel Dinsdag teen die nege-malige Afrika-kampioen, Nigerië. Die ander halfeindronde is Dinsdag tussen die gasvroue Marokko en Ghana.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….