Nuus 13:00
BULLETIN 20 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê daar is geen behoefte aan ‘n buitengewone Johannesburgse raadsitting nie
# Die Salga-raad van Speakers-forum gaan bestendigheid in plaaslike regering bekyk
# En, krieket: Maharaj is die voorste eendag-bouler na Wêreldbekertoernooi
# Die DA in Johannesburg sê hy het met groot kommer kennis geneem van die buitengewone raadsitting wat die stadsbestuurder aangevra het om ‘n nuwe raadspeaker te verkies, ten koste van inwoners en belastingbetalers. Die party sê hy sal nie aandadig wees aan so ‘n vermorsing van geld nie en sal dus nie die vergadering bywoon nie. Die DA-lid, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê die party se standpunt bly duidelik dat die raad moet ontbind word en hulle sal nie die koalisie as wetlik ag terwyl hulle ligsinnig is met belastingbetalers se geld nie:
Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsorganisasie se Raad van Speakers-forum hou intussen ‘n tweedaagse byeenkoms om aandag te gee aan talle uitdagings waarmee munisipaliteite te kampe het. Dit vind plaas terwyl Johannesburg gereed maak om ‘n nuwe speaker te verkies nadat Colleen Makhubele verwyder is. Salga se bedryfshoof, Lance Joel, sê die forum vind van môre tot Woensdag plaas en sal konsentreer op strategieë om plaaslike owerhede bestendig te maak. Hy sê die besprekings het ten doel om insigte en oplossings te bied vir doeltreffender bestuur in munisipaliteite:
# Palestynse medici het daarin geslaag om 31 vroeggebore babas uit die Al-Shifa-hospitaal in Gaza te ontruim tydens ‘n gevaarlike optrede. Die hoofdirekteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Tedros Ghebreyesus, sê die oordrag is gedoen met ses ambulanse van ‘n Palestynse mediese organisasie wat in moeilike sekerheidstoestande uitgevoer is. Die babas is na ‘n intensiewe sorgeenheid vir pasgebore babas in die Rafay-hospitaal geneem. Gaza se direkteur-generaal van Hospitale, Mohammed Zaqut, het aan A-F-P gesê die babas sal later na Egipte geneem word vir dringende mediese ingryping.
# Krieket: Die Protea-draaibouler Keshav Maharaj is boaan die ranglys vir eendag-internasionale boulers. Hy word gevolg deur Wanindu Hasaranga van Sri Lanka en Adil Rashid van Engeland. Indië is die voorste eendagspan al het hy gister teen Australië verloor in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi. Australië is tweede en Suid-Afrika derde. Shubman Gill van Indië is die voorste eendag-kolwer, en die Protea-aanvangskolwer en paaltjiewagter Quinton de Kock derde. Hy het uit internasionale krieket getree nadat Suid-Afrika in die halfeindstryd teen Australië verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-188-dollar-95-sent. Die prys van goud is een-duisend-978-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-23-sent per vat.
# En laastens: Die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls het sy feestyd-aannemingsprogram vir Afrika-pikkewyne bekendgestel. Pikkewyn-geesdriftiges word versoek om ‘n Afrika-pikkewyn aan te neem en ‘n naam te gee, en in ruil daarvoor kry hulle die nuwe fees-sertifikaat. Die organisasie sê deur dié feestyd ‘n pikkewyn aan te neem, maak die persoon ingryping moontlik, wat lei tot die herstel- en vrylatingsreis van dié ongelooflike spesie. Die stigting sê dis ook ‘n sinvolle manier vir diereliefhebbers om by te dra tot die bewaring van Afrika-pikkewyne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….