Nuus 18:00
BULLETIN 26 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek sê Tesourie het skuld gestabiliseer, maar ’n sterker fiskale anker is nodig
# Die polisiekommissaris, Fannie Masemola loof die span vir beslaglegging op kokaïen van 200-miljoen-rand op OR Tambo Internasionale Lughawe
# En, sokker: Engeland se kaptein Harry Kane is die gunsteling om vanaand die Ballon d’Or te wen
# Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek sê die Nasionale Tesourie het vertroue in Suid-Afrika se openbare finansies herstel, met staatskuld wat na verwagting in die 2025/2026-boekjaar ’n hoogtepunt van 78,4-persent van die bruto binnelandse produk bereik het. Die buro wys egter daarop dat die voorgestelde fiskale raamwerk nie ver genoeg strek nie, aangesien dit nie ’n stewige skuldplafon of ’n duidelike langtermynteiken vir die vermindering van skuld bevat nie. Die buro waarsku strenger reëls is nodig om te verseker toekomstige regerings bestedingsdissipline word gehandhaaf, veral namate druk toeneem om meer te bestee.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die multidissiplinêre span geloof wat by die OR Tambo Internasionale Lughawe op ongeveer 250 kilogram kokaïen beslag gelê het. Beamptes het gister vyf tasse met 216 blokke kokaïen van meer as 200-miljoen-rand onderskep nadat dit uit Brasilië in Suid-Afrika aangekom het. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Masemola beskou die beslaglegging as bewys van die doeltreffendheid van gekoördineerde wetstoepassing en die toewyding van beamptes om dwelmhandelnetwerke te ontwrig:
# Die Motorbedryf-personeelvereniging doen ‘n beroep op ‘n landwye oudit van polisievoertuigbergingsfasiliteite, nadat die Hooggeregshof in Pretoria bevind het die Ministerie van Polisie is aanspreeklik vir ‘n motor waarvan onderdele verwyder is terwyl dit in polisiebewaring was. ‘n Vrou se Volkswagen Golf is aan haar terugbesorg sonder sy enjin, ratkas en verskeie ander komponente nadat dit by ‘n polisie-bergingsfasiliteit in Pretoria-Wes gehou is. Phakamile Hlubi-Majola van MISA sê die polisie moet sekuriteit verskerp en nalatige amptenare verantwoordelik hou:
# Sokker: Engeland se kaptein, Harry Kane, is volgens berigte die gunsteling om vanaand die gesogte Ballon d’Or te wen en die eerste Britse wenner in 25 jaar te word. Die doelskieter van Bayern Münich het verlede seisoen 73 doele in 65 wedstryde aangeteken. Die Franse kaptein, Kylian Mbappé, van Real Madrid, en die Spaanse ster Lamine Yamal, van Barcelona, is ook in die wedloop. Die seremonie in Londen sal die eerste in Engeland wees ter erkenning van die heel eerste wenner, Stanley Matthews, 70 jaar gelede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-682-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-2-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 115-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte, Suid-Korea hoop sy beroemde haai, Bukangi, is uiteindelik terug in die oop see nadat sy in die hawestad Busan in ‘n kanaal vasgekeer was. Die wyfie-bronshaai van drie-meter het vermoedelik die kanaal binnegeswem agter vis aan. Sy het groot belangstelling uitgelok terwyl reddingspogings aangewend is om haar terug see toe te lei. Amptenare het verlede week ná verskeie onsuksesvolle pogings uiteindelik gesien hoe sy na die oop water swem. Daar was geen verdere waarnemings nie, wat die verwagting skep dat sy uiteindelik terug is waar sy hoort.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….