Nuus 18:00
BULLETIN 22 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê Zuma sal aanspreeklik gehou word as die ANC sleg vaar in die verkiesing
# Rugby: Dupont maak sy sewes-debuut in Vancouver
# En, die voormalige Withuis-hond se skrikbewind is onthul
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê oud-president Jacob Zuma sal aanspreeklik gehou word as die regerende party sleg vaar in die komende verkiesing. Dit word op 29 Mei gehou. Mbalula het die media toegespreek oor die party se gereedheid vir sy manifes-bekendstelling Saterdag in die Moses Mabhida-stadion in KwaZulu-Natal, en Zuma aangevat oor sy steun vir die uMkhonto we Sizwe-party. Hy sê die voormalige president het hulle opponente versterk deur met die vyand saam te werk:
# Everest Wealth maan die twee-pot aftreestelsel kan lei tot ‘n toename in afhanklikheid van die regering. Dit volg op die minister van Finansies, Enoch Godongwana se aankondiging dat die stelsel na verwagting ‘n belastingmeevaller van vyf-miljard-rand vir die regering sal oplewer. Die hoof van raadgewende dienste van die maatskappy, Riaan Grobler, sê gereelde onttrekkings kan langtermyn-besparing laat afneem, wat moontlik meer mense afhanklik kan maak van staatstoelae. Hy vra doeltreffende opvoeding van die publiek oor die gevolge van voortydige onttrekking van aftreefondse.
# Die Stad Tshwane het bykomende personeel van die Elektrisiteits- en Energiedepartement ontplooi na streek drie nadat swaar donderstorms ernstige skade en kragonderbrekings aangerig het. Bome is ontwortel en takke het op strate en kragdrade geval, wat uitgerekte kragonderbrekings veroorsaak in Pretoria en omliggende dele. Lindela Mashigo van die stad sê ‘n span is saamgestel vir groter vermoë en vinniger herstelwerk omdat tegnici oorweldig is deur die agterstand:
# Rugby: Frankryk se voormalige 15-man-kaptein, Antoine Dupont, skop die naweek sy sewes-loopbaan in Kanada af. Hy is ingesluit in die land se span vir die wêreldreeks-toernooi in Vancouver. Dupont het kort na verlede jaar se Wêreldbeker aangekondig hy wil ‘n plek oopspeel in Frankryk se sewesspan vir die Olimpiese Spele in Parys. Dit beteken hy speel nie in die Sesnasies nie. Die land kom in hulle groepwedstryde in Vancouver te staan teen die Verenigde State, Australië en Samoa.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-221-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-26-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte, die voormalige hond van die Withuis se diplomatieke vaardighede is onder die loep nadat dokumente getoon het die Amerikaanse president, Joe Biden, se Duitse herdershond het glad nie van sy baas se lyfwagte gehou nie. Die hond, genaamd Commander, het volgens berigte geheimediens-agente minstens 25 keer gebyt voordat hy verlede jaar uit die Withuis verwyder is. In sommige voorvalle moes lyfwagte steke kry weens die diep wonde. BBC News berig ‘n naamlose senior agent het sy kollegas aangeraai om kreatief te wees om hul veiligheid te verseker. Commander woon nou glo by ander familielede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….