Nuus 18:00
BULLETIN 11 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gure weer eis ‘n lewe in Kaapstad met stormsterk wind wat die Wes-Kaap teister
# FOSA bepleit sigbare wetstoepassing in hoërisiko-misdaadgebiede
# En, minister Sindisiwe Chikunga sê geestesgesondheidkrisis onder mans en seuns is ’n nasionale noodsituasie
# Een persoon is in Kenilworth in Kaapstad dood nadat ‘n boom tydens gure weer in die Wes-Kaap op ‘n motor geval het. Nog ‘n motoris in Parow is in ‘n soortgelyke voorval beseer. Stortreën en stormsterk wind teister steeds die provinsie en veroorsaak wydverspreide oorstromings, grondstortings, kragonderbrekings en padsluitings. Ramprisikobestuur se woordvoerder, Sonica Lategan, sê nood- en humanitêre spanne help betrokke gemeenskappe terwyl die slegte weerstoestande voortduur:
# Forum for South Africa bepleit sigbare wetstoepassing in die land se hoërisiko-misdaadgebiede. Dit volg nadat twee mense hierdie naweek doodgeskiet en drie gewond is voor ‘n taverne in die Zamimpilo-informele nedersetting in Langlaagte, Johannesburg. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê wetteloosheid versterk sy greep op gemeenskappe:
# Kenia se minister van Buitelandse Sake, Musalia Mudavadi, sê die Afrika-Frankryk-beraad wat tans in Nairobi aan die gang is, spreek belangrike kontinentale kwessies aan terwyl dit groei bevorder. Die beraad bring die Franse president Emmanuel Macron en meer as 30 Afrika-leiers byeen om samewerking en belegging te versterk. Meer as een-duisend-500 afgevaardigdes woon die tweedaagse beraad by. Mudavadi het aan SABC News gesê die byeenkoms het ten doel om gelyke vennootskappe te bou en vernuwing te bevorder:
# Krieket: Daar is twyfel oor die Engelse snelbouler Gus Atkinson se fiksheid vir volgende maand se tuistoetsreeks teen Nieu-Seeland nadat hy harsingskudding opgedoen het tydens ‘n graafskapswedstryd vir Surrey. Twee opslagballe van Nottinghamshire se internasionale bouler, Josh Tongue, het hom op sy kopskerm getref. Hy is later vervang en harsingskudding is gediagnoseer. Die eerste van drie toetse teen Nieu-Seeland begin die vierde Junie op Lord’s in Londen en word gevolg deur wedstryde op die Oval in Londen en Trent Bridge in Nottingham.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-185-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-729-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 101-dollar-30-sent per vat.
# En laastens, die minister in die Presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, vra dringende ingryping deur die samelewing, instellings en die gemeenskap om die toenemende geestesgesondheidkrisis onder mans en seuns in die land aan te spreek. Sy beskryf dit as ‘n “stille nasionale noodsituasie”. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê die meeste mans ly in stilte weens skadelike sosiale norme wat emosionele kwesbaarheid en soeke na hulp ontmoedig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….