Nuus 18:00
BULLETIN 7 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Skole in Eden- en Sentraal-Karoo bly gesluit weens stormweer
# ‘n Voormalige ondersoeker sê Lesetja Senona het geweet die SAPD se Port Shepstone-perseel is onveilig vir dwelmberging
# En, ‘n KLM-lugwaardin word getoets vir hantavirus
# Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys sê 29 skole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte sal môre gesluit bly weens stormskade en versperde toegangspaaie. Die sluitings raak gebiede soos George, Knysna en Oudtshoorn. Alle ander skole in die betrokke gebiede sal heropen, hoewel leerdervervoerdienste steeds ontwrig kan word. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê owerhede sal voortgaan om weerstoestande te monitor en herstelpogings in die betrokke gemeenskappe te steun:
Die munisipaliteit van George in die Wes-Kaap het gesinne intussen gevra om die naweek se begrafnisse uit te stel weens swaar reën. Volgehoue nat weer het begraafplase sopnat gelaat en die watertafel verhoog, wat dit onveilig maak om grafte te grawe terwyl grafkante kan inval. Inwoners word aangeraai om begrafnisse later te hou. Die grawe van grafte sal eers voortgaan sodra die grond weer bestendig is en watervlakke verlaag het.
# Die afgetrede Valke-ondersoeker Jakobus Prinsloo het voor die Madlanga-kommissie getuig dat die SAPD-perseel in Port Shepstone nie geskik is vir die berging van groot dwelmbesendings nie. Prinsloo sê die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona en ander senior beamptes was bewus daarvan dat die gebou nie oor goedgekeurde bewysregisters beskik nie. Hy sê die Valke se kantore se kluise is nie goedgekeur nie, wat hulle kwesbaar laat vir sekuriteitsbreuke, al moes hul aansienlike hoeveelhede dwelms berg:
# ‘n Lugwaardin van die redery KLM word in ‘n hospitaal in Amsterdam vir die hantavirus getoets nadat sy matige simptome ontwikkel het. Die Nederlandse Ministerie van Gesondheid sê die vrou ondergaan toetse nadat sy in aanraking was met ‘n Nederlandse vrou wat van ‘n KLM-vlug afgehaal en later in Suid-Afrika aan die virus dood is. KLM sê die passassier is verwyder voordat die vlug uit Johannesburg na Nederland vertrek het. Ander mense op die vlug word intussen gekontak as voorsorgmaatreël.
# Krieket: Die voormalige Engelse kaptein, Michael Vaughan, het die Engelse en Walliese Krieketraad gekritiseer vir ‘n vertraging van vier maande met die aanstelling van ‘n nuwe nasionale keurder. Luke Wright het sy bedanking in Januarie aangekondig en amptelik vertrek toe die T20-Wêreldbekertoernooi in Maart geëindig het. Onderhoude is hierdie week gevoer, met sowat 80 aansoekers, insluitend die voormalige boulers Steven Finn en Darren Gough. Engeland sal na verwagting sy groep vir die eerste toets teen Nieu-Seeland oor twee weke aankondig. Vaughan het die vertraging as belaglik beskryf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-546-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-744-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 95-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….