Nuus 17:00
BULLETIN 7 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskeie paaie in die Oos-Kaap word gesluit weens oorstromings
# Die Polisie verwelkom die uitstel van borgtog in die Fadiel Adams-saak [KLANK]
# En, ‘n New Yorkse regter stel Jeffrey Epstein se beweerde selfmoordnota vry
# Die Oos-Kaapse Departement van Vervoer sê verskeie paaie in die provinsie moes gesluit word weens oorstromings, veral in laagliggende gebiede. Verkeersbeamptes is ontplooi om verkeer te beheer en motoriste by te staan. Sneeu is ook aangemeld in hoogliggende gebiede, insluitend in Lady Grey, Wapadsberg in Nxuba en Lootsbergpas naby Middelburg. Unathi Binqose van die departement sê alle groot bergpasse is oop ondanks die gure weer:
# Die nasionale woordvoerder van die Polisie, Athlenda Mathe, het die uitstel van die borgtog vir die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams, in die Pinetown-landdroshof in KwaZulu-Natal verwelkom. Adams staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling in die 2017-moordondersoek van ANC-raadslid Sindiso Magaqa. Mathe sê die Polisie het ‘n sterk saak en verifieer adresse terwyl die taakspan vir politieke moorde beduidende arrestasies en skuldigbevindings landwyd maak:
# Oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki staan ‘n aansoek teen om die ondersoek na Waarheids- en Versoeningskommissie-sake te verleng en het president Cyril Ramaphosa gevra om dit te weier. Hulle het vroeër ‘n onsuksesvolle hofaansoek ingedien vir die verwydering van regter Sisi Khampepe as voorsitter en haar beskuldig dat sy haar aanbevelings oor WVK-sake wat na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys is, nie bekend gemaak het nie. Die ondersoek kyk na beweerde politieke inmenging om vervolgings in apartheids-misdade te verhoed. Ramaphosa het verlede jaar uitstel verleen tot 31 Julie vir ‘n finale verslag.
# Die Amerikaanse federale regter Kenneth Karas het ‘n dokument vrygestel wat gesien word as ‘n selfdoodbrief van die pedofiel Jeffrey Epstein. Die brief op geel notaboek-papier gekrabbel, is ingedien deur prokureurs van die veroordeelde moordenaar en oud-polisieman Nicholas Tartaglione, wat Epstein se selmaat in Manhattan was. Die brief is in Julie 2019 ontdek nadat Epstein lewend in sy sel gevind is ná ‘n oënskynlike selfdoodpoging. Die omstrede sakeman en beskuldigde sekshandelaar is ‘n maand later in sy sel dood aangetref in wat as ‘n selfdood beslis is.
# Sokker: Die mede-gasheer Mexiko se beheerliggaam het spelers gedreig dat hulle uit die Wêreldbeker-groep gelaat sal word as hulle nie vir ‘n oefenkamp aanmeld nie en kies om eerder by hul klubs te bly. Die kamp, wat gister begin het, val buite die aangewese internasionale gleuf en bots met Liga MX-uitspeelwedstryde. Spelers is ‘n sperdatum van agtuur vanaand gegee om by die kamp in Mexikostad aan te meld. Mexiko sal sy Wêreldbeker-groep op 1 Junie aankondig, met hul eerste wedstryd teen Bafana Bafana die 11de.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-996-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-738-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 96-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….