Nuus 18:00
BULLETIN 21 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Frankryk bevestig die diplomatieke besluit oor Cyril Ramaphosa se staatsbesoek lê by die leiers
# Gareth Mnisi erken onreëlmatighede met tenders, maar verdedig sy besluit om nie bedrog te ondersoek nie
# En, Donald Trump sê hy wil nie die skietstilstand met Iran verleng nie
# Die Franse ambassadeur in Suid-Afrika, David Martinon, sê enige moontlike staatsbesoek aan Frankryk deur president Cyril Ramaphosa berus by die twee presidensies. Dit volg na berigte dat die Franse president Emmanuel Macron moontlik ‘n uitnodiging sal rig nadat Suid-Afrika se uitnodiging na die G7-beraad teruggetrek is. Martinon het gepraat in die aanloop tot die Africa Forward-beraad, wat gesamentlik deur Frankryk en Kenia georganiseer word en op 11 en 12 Mei in Nairobi, Kenia, plaasvind. Hy sê Frankryk ondersteun Suid-Afrika se volle deelname aan die G20 met besprekings wat op diplomatieke vlak voortduur.
# Sesi Baloyi van die Madlanga-kommissie het Tshwane se finansiële hoof, Gareth Mnisi, uitgevra hoekom hy nie ‘n bedrogondersoek geopen het nie ten spyte van bewyse van onreëlmatighede. Mnisi sê hy het destyds nie prima facie bewyse gehad om die saak te eskaleer nie. Baloyi voer aan die verkrygingsverslae het onreëlmatighede getoon wat moontlike bedrog aandui. Mnisi het die bevindinge erken, maar hou vol sy komitee het binne verkrygingsperke opgetree, met regstoesig wat sy besluitnemingsproses dikteer:
# Die Johannesburgse Metropolisie waarsku teen ‘n vals leerlingskapadvertensie wat op sosiale media sirkuleer en sê daar is tans geen vakatures vir die 2026 Metropolisie- en Verkeersleerlingskapprogram nie. Woordvoerder Xolani Fihla sê die bedrieglike plasings op TikTok en Facebook is nie van die Stad Johannesburg afkomstig nie en is bedoel om werksoekers te mislei. Hy doen ‘n beroep op die publiek om nie persoonlike besonderhede te deel of betalings te maak nie:
# President Donald Trump het Dinsdag gedurende ‘n onderhoud aan CNBC gesê hy wil nie die wapenstilstand met Iran verleng nie. Hy het gesê die VSA is in ‘n sterk onderhandelingsposisie en sal eindig met wat hy ‘n goeie ooreenkoms noem. Washington is vol vertroue dat gesprekke met Iran in Pakistan sal voortgaan, en ‘n senior Iranse amptenaar het gesê Teheran oorweeg dit om aan te sluit. Met die vooruitsig van verdere vredesgesprekke steeds onseker, het Trump gesê die VSA sal sy aanvalle op Iran hervat as ‘n ooreenkoms nie binnekort bereik word nie.
# Rugby: Die Haaie se Springbok-skrumskakel, Grant Williams, gaan die einde van die seisoen na Japan vertrek. Die 29-jarige se kontrak met die Durbanse span verstryk in Junie nadat hy in 2018 by die klub aangesluit het. Hy het die eerste van sy 28 toetse in 2022 gespeel. Die naam van Williams se nuwe span is nog nie bekend gemaak nie. Na sy vertrek sal die Haaie steeds die dienste van twee ander skrumskakels hê, die Bok-speler Jaden Hendrikse en Ross Braude. Die Haaie is nou 11de op die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-106-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-779-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….