Nuus 18:00
BULLETIN 17 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa bepleit regverdige internasionale handelsreëls te midde van klimaatsoorgang
# Tshwane se finansiële hoof ontken bande met sekerheidsonderneming te midde van ‘n tenderondersoek
# En, Minister Dean Macpherson sê die nuwe forensiese laboratorium in KZN versterk die stryd teen misdaad
# President Cyril Ramaphosa vra regverdige internasionale handelsreëls namate lande oorskakel na ‘n lae-koolstof-ekonomie. Hy het op ‘n sakeforum in Spanje gesê klimaatbeleid moenie ontwikkelende ekonomieë onregverdig benadeel nie, en bepleit sterker steun deur klimaatsbefondsing, tegnologie-oordrag en oorgangsmaatreëls. Ramaphosa beklemtoon Suid-Afrika ondersteun klimaatsoptrede, en handelstelsels moet regverdig bly namate die wêreld na groener nywerhede verskuif:
# Die geskorsde finansiële hoof van Tshwane, Gareth Mnisi, ontken alle bande met Gubis 85 Solutions, El Shaddai Security Services, Ngaphesheya Construction of ander ondernemings. Mnisi het voor die Madlanga-kommissie getuig en sê hy het nog nooit enige regstreekse of onregstreekse verhouding met die onderneming gehad nie. Sy skorsing volg op bewerings, insluitend WhatsApp-boodskappe, wat munisipale tenders bespreek. Hy hou vol hy het geen belang in enige betrokke instellings nie, terwyl ondersoeke na verkrygingsonreëlmatighede voortduur:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het amptelik ‘n nuwe Forensiese Wetenskaplaboratorium in KwaZulu-Natal aan die SAPD oorhandig. Die laboratorium in Mayville sal na verwagting forensiese ontleding versterk, ondersoeke verbeter en skuldigbevindingsyfers verhoog. Macpherson sê die laboratorium sal die strafregstelsel verbeter met moderne infrastruktuur om die verwerking van bewyse te ondersteun. Hy sê dit sal die staat se vermoë om misdaad te bekamp verbeter en doeltreffende wetstoepassing landwyd verseker:
# ‘n Russiese hommeltuigaanval het hawe-infrastruktuur beskadig in Oekraïne se grootste hawe aan die Donau-rivier, Izmail. Oekraïense owerhede sê ‘n hommeltuig het in Roemeense gebied geval. Die hawe lê aan die suidwestelike punt van Oekraïne teenoor Roemeense gebied oorkant die Donau. Dit het ‘n belangrike logistieke gebied geword vir Oekraïne se oorlogspoging. Die Ministerie vir Gemeenskapsontwikkeling sê die aanval het brande veroorsaak wat vinnig deur nooddienste onder beheer gebring is. Administratiewe en produksiegeboue sowel as spoorweg-infrastruktuur is beskadig.
# Gholf: Een van LIV Gholf se grootste trekpleisters, die Spanjaard Jon Rahm, is nie besonder bekommerd oor die toekoms van die wegbreekliga nie. Dit volg op gerugte dat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy finansiële steun kan onttrek. LIV se jongste toernooi in Mexiko het gister afgeskop, met Rahm wat ‘n eerste ronde-totaal van 65 aangeteken het, drie houe agter die voorloper, Victor Perez van Frankryk. Rahm sê dis sinneloos om oor gerugte te bekommerd tot die mense in beheer bevestig of dit geldig is of nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-152-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-863-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 86-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….