Nuus 07:00
BULLETIN 18 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer Malema oor sy roekelose aanval op ‘n landdros
# Iran sê die Seestraat van Hormoes is oop na die ooreenkoms in Libanon
# En rugby: Die Bulle skuif op na die vyfde plek op die VRK-punteleer
# Die DA sê EFF-leier Julius Malema se opmerkings na vonnisoplegging hou die gevaar in om die publiek se vertroue in die regbank te ondermyn. Die party sê Malema se beskrywing van landdros Twanet Olivier in die hof in KuGompo City as ‘n rassis, is ‘n ongegronde bewering. Woordvoerder Glynnis Breytenbach sê openbare aanvalle op regs-amptenare is roekeloos en bedreig die oppergesag van die reg:
# Die moordverhoor van kletsrymer Kiernan Forbes, “AKA Forbes” en sy vriend Tebello Motsoane sal na verwagting in Junie in die Hooggeregshof in Durban, KwaZulu-Natal, hervat word. Dit volg nadat die Ndimande-broers, Malusi en Siyabonga, tot die saak gevoeg is, wat die aantal beskuldigdes op sewe te staan bring. Die broers word behalwe die moorde in 2023 ook verbind met ‘n wyer reeks moorde, ontvoerings en gewapende rooftogte wat terugdateer tot 2022.
# Die direkteur van die vroueregtegroep Wise4Afrika, Brenda Madumise-Pajibo, sê die parlementêre portefeuljekomitee op Justisie sal getoets word op sy standpunt oor geslagsgeweld. Dit volg na die Regterlike Dienskommissie die Oos-Kaapse regterpresident, Selby Mbenenge, skuldig bevind het aan growwe wangedrag en seksuele teistering na ‘n klagte van die voormalige hofsekretaris Andiswa Mengo. Die kommissie sal sy bevindinge aan die speaker van die Nasionale Vergadering voorlê en mag skorsing deur president Cyril Ramaphosa aanbeveel hangende die Parlement se besluit. Madumise-Pajibo sê die saak beklemtoon die magswanbalans in die regbank.
# Die Wes-Kaapse regering gaan gedurende die 2026/27-boekjaar 41-miljoen-rand in munisipale projekte belê om die veerkragtigheid van watervoorsiening te verbeter. Dit sluit projekte in soos boorgat-ontwikkeling, die bou van reservoirs, ontsoutingsopgraderings, werk aan pyplyne en die opknapping van pompstasies in verskeie munisipaliteite. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê die befondsing sal help om watersekerheid te verbeter:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, sê die Seestraat van Hormoes is oop na ‘n wapenstilstandooreenkoms in Libanon bereik is, terwyl die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy glo ‘n ooreenkoms sal binnekort bereik word om die Iranse oorlog te beëindig. Araqchi het op X gesê die roete is oop vir alle handelskepe vir die res van die wapenstilstand van tien dae tussen Israeliese magte en die Irans-gesteunde Hizbollah. Hy sê skepe sal beweeg langs ‘n roete wat deur Iran se Hawe- en Maritieme-organisasie bepaal is.
# En rugby: Die Bulle het na vyfde plek op die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer opgeskuif toe hulle die Dragons 47-7 geklop het in Wallis. Die besoekers het sewe drieë gedruk – deur Embrose Papier, Johan Grobbelaar, Marcell Coetzee, Devon Williams, Sergeal Petersen en twee deur Marco van Staden, terwyl Springbok-losskakel Handré Pollard en David Kriel albei drie verdoel het. Die gashere het slegs ‘n enkele drie gedruk. Die Stormers speel vandag tuis in Kaapstad teen Connacht, die Leeus in Johannesburg teen Glasgow Warriors en die Haaie in Wallis teen die Ospreys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….