Nuus 18:00
BULLETIN 9 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Stad Johannesburg verwelkom die Hooggeregshof se skrap van DA se saak oor stadsbestuurder se aanstelling
# Die Mineraleraad waarsku oor dalende mynbou-produksie in Suid-Afrika
# En, atletiek: Caster Semenya vra skenkings voor haar saak by die Europese Hof in Mei
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die DA se aansoek teen die Stad Johannesburg oor die aanstelling van die stadsbestuurder, Floyd Brink, van die rol geskrap weens ‘n gebrek aan dringendheid. Die hof het ook beslis die party moet die stad se regskostes dra. Die burgemeester, Kabelo Gwamanda, het die hofbeslissing verwelkom. Hy het die DA beskuldig van rassistiese aanvalle op Brink onder die dekmantel van aanspreeklikheid. Gwamanda het ‘n beroep op die stads-administrasie gedoen om gefokus te bly en te voldoen aan die administratiewe regulasies tot voordeel van alle inwoners.
# Die EFF gaan nie vervoer vir ondersteuners van elders na Durban reël vir môre se bekendstelling van sy verkiesingsmanifes op die Moses Mabhida-stadion nie. Die partyleier, Julius Malema, het dié week deur KwaZulu-Natal gereis om plaaslike steun te werf en gewaarsku teen politieke geweld wat gereeld in die provinsie voorkom. Die EFF se tesourier-generaal, Omphile Maotwe, het aan die SABC gesê die party is gereed om vreedsaam vir kiesersteun mee te ding en het kommer verwerp oor steun aan die nuwe party, Umkhonto we Sizwe, in die provinsie:
# Die Mineraleraad van Suid-Afrika het ‘n waarskuwing uitgereik oor die land se dalende mynbou-produksie, wat tans 13-persent onder die vlakke van die 1980’s is. Die hoofekonoom, Hugo Pienaar, beklemtoon die sektor se belangrikheid as ‘n groot werkgewer en belastingbydraer, wat meer as 477-duisend Suid-Afrikaners in diens het en jaarliks 140-miljard-rand vir die staat inbring. Pienaar skryf die bedryf se afname toe aan uitdagings soos beurtkrag, logistieke knelpunte, dalende verbruiksgoedere-pryse en stygende arbeidskoste, wat gesprekke oor die herstrukturering van nie-winsgewende bedrywighede aangespoor het.
# Atletiek: Die Olimpiese gouemedalje-wenner, Caster Semenya, doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om by te dra tot haar hofsaak wat vir Mei in die Europese Hof vir Menseregte geskeduleer is. Switserland betwis die hof se uitspraak van diskriminasie teen Semenya en ander atlete. Semenya daag die verbod op vroue-atlete met natuurlike hoër testosteroonvlakke uit, soos opgelê deur Wêreldatletiekregulasies, met behulp van die Kommissie vir Geslagsgelykheid en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 47-duisend-27-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-24-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-34-sent per vat.
# En om mee af te sluit: ‘n Nuwe Oscar – vir beste rolverdeling – gaan vanaf 2026 toegeken word. Die Akademie vir Rolprentkuns en Wetenskap het die besluit geneem na rolverdelingsregisseurs hulle die afgelope paar jaar beywer het vir erkenning saam met ander rolprentkunste soos klank, kostuums, hare, en grimering. Die akademie sê rolverdelingsregisseurs speel ‘n noodsaaklike rol in die maak van rolprente. Die nuwe Oscar bring die aantal kategorieë op 23 te staan. BBC News berig waaghals-kunstenaars beywer hulle ook vir hulle eie kategorie, maar was tot dusver onsuksesvol.