Nuus 18:00
BULLETIN 18 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KZN Polisiekommissaris bestempel Senzo Mchunu as iemand wat misdaad makliker maak
# Die ANC-Jeugliga vra strukturele hervorming van die land se elektrisiteitsprysraamwerk
# En, Cosatu verwelkom die Posbank se lisensie by die Finansiële Sektor Gedragsowerheid
# Die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, is nie deel van ‘n sindikaat nie, maar tree as ‘n assistent op, wat misdadige bedrywighede oor die hoof sien. Mkhwanazi beklemtoon al is die minister nie regstreeks betrokke nie, vergemaklik sy gebrek aan optrede, die voortsetting van misdadigheid. Hy vra Mchunu om verantwoordelikheid te neem en die kwessies wat wetstoepassing ondermyn, aan te pak:
# Die ANC-Jeugliga is bekommerd oor die Nasionale Energiereguleerder se jongste elektrisiteitstariefbepalings. Eskom sal vanaf volgende maand ‘n gemiddelde elektrisiteitstariefverhoging instel van 8,7-persent vir die 2026/27-boekjaar, ná NERSA se goedkeuring. Munisipale grootmaat-aankope sal vanaf Julie hul tariefverhogings instel, met ‘n gemiddelde van 9,01-persent. Sindiswa Scheepers van die liga sê ‘n dringende strukturele hervorming van die land se elektrisiteitsprysraamwerk word benodig:
# Die vakverbond Cosatu sê hy is bemoedig nadat die Posbank sy langverwagte lisensie van die Finansiële Sektor Gedragsowerheid ontvang het. Dit is nog ‘n stap nader aan die bank se doelwit om ʼn volskaalse handelsbank te word. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê hierdie mylpaal lê die grondslag vir ʼn staatsbank wat op gewone verbruikers, veral armes, gemik is:
# Die Vereniging vir Privaat Studentebehuising in Mpumalanga het dienste opgeskort vir studente aan die Universiteit van Mpumalanga, ná mislukte betalings deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die krisis, wat ongeveer ses-duisend studente raak, spruit uit tegniese probleme met duplikaatrekords. Dienste, insluitend water, krag en Wi-Fi, is gestaak wat gelei het tot vrese vir uitsetting. Die Studenteraad skakel nou met belanghebbendes om die saak op te los en probeer seker maak studente se studies gaan voort ondanks ontwrigtings.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is nie seker of sy weer aan die Dubaise Kampioenskap sal deelneem nie na die toernooi-direkteur haar laat onttrekking gekritiseer het. Salah Tahlak het ook swaarder optrede geëis teen spelers wat op die laaste nippertjie onttrek. Sabalenka sê dis belaglik nadat sy weens ‘n ligte heupbesering besluit het om nie te speel nie, terwyl nommer-drie, Iga Swiatek van Pole, ook onttrek het. Sabalenka sê toernooi-direkteure moet eerder spelers ondersteun as om net begaan te wees oor kaartjieverkope.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-722-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-858-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 106-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….