Nuus 17:00
BULLETIN 18 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Statistieke Suid-Afrika sê gebruikersinflasie daal tot 3-persent in Februarie
# Veertig Mpumalanga-leerders is gehospitaliseer na hulle voedselvergiftiging weens lekkergoed opdoen
# En, Volodymyr Zelensky sê Oekraïne staar ‘n missieltekort in gesig weens die oorlog in die Midde-Ooste
# Suid-Afrika se inflasie het in Februarie afgeneem en van 3,5-persent in Januarie tot drie-persent gedaal. Die afname was hoofsaaklik te danke aan laer brandstofpryse, stadiger stygings in mediese fondskoste en goedkoper kosprodukte. Vleis-, graan- en kookoliepryse het almal gedaal, wat verbruikers ‘n mate van verligting gegee het. Ricado Johnson van Statistieke Suid-Afrika sê alkoholpryse het effens gestyg, en sommige mediese fondsverhogings kan inflasie later in die jaar steeds opstoot:
# Solidariteit vra die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om vertragings met die afhandeling van regulasies vir maatskaplike werk in skole te verduidelik. Die vakbond sê die gebrek aan formele regulasies beïnvloed maatskaplike werkers se vermoë om doeltreffend te funksioneer en benadeel kwesbare leerders. Woordvoerder Bianca Smit vra dringende optrede en beklemtoon duidelike riglyne is noodsaaklik om te verseker maatskaplike werkers kan kritieke dienste in skole lewer en kinders se welstand beskerm:
# Veertig leerders van die Ekwazini Secondary School in Mpumalanga is vanoggend hospitaal toe geneem nadat hulle lekkergoed geëet het wat vermoedelik voedselvergiftiging veroorsaak het. Drie kinders het aanvanklik maagkrampe gekry voor ander ook siek geword het. Almal is intussen uit die hospitaal ontslaan en in ‘n bestendige toestand. Gesondheidsinspekteurs het monsters van die eetgoed, ander kos en water geneem vir toetsing. Die Onderwysdepartement se woordvoerder, Jasper Zwane, vra ouers om voedselveiligheid te monitor en loof die skool en gesondheidswerkers vir die vinnige, gekoördineerde reaksie.
# President Volodymyr Zelensky sê Oekraïne gaan as gevolg van die oorlog in die Midde-Ooste ‘n missieltekort ondervind om Rusland te beveg. Hy het aan die BBC gesê sy Russiese eweknie, Vladimir Putin, wil die oorlog tussen die VSA, Israel en Iran lank uitrek, want dit sal Kiëf verswak, met Amerikaanse hulpbronne wat elders aangewend sal word. Zelensky sê hy het ‘n slegte gevoel oor die impak van die konflik op sy land. Hy sê vredesonderhandelinge word aanhoudend uitgestel weens die Iranse oorlog, en die situasie bevoordeel Putin as gevolg van verhoogde energiepryse.
# Rugby: Slegs ses rondes is oor in die groepsfase van die Verenigde Rugbykampioenskap en die Stormers, die Leeus en die Bulle is almal op koers vir ‘n uitspeelplek. Die Haaie sal egter hard moet werk om die volgende ronde te haal. Die Stormers is nou tweede op die punteleer, die Leeus sewende, die Bulle agtste en die Haaie elfde. Die top-agt dring deur. Die Stormers en die Leeus speel vervolgens vier tuis- en twee wegwedstryde, en die Bulle en Haaie elk twee tuis, twee weg en twee tuis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-187-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-856-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 104-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….