Nuus 18:00
BULLETIN 25 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Belastingverligting word aangekondig, met regering wat beplande belastingverhogings onttrek
# Minister Nomakhosazana Meth vra groter samewerking in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om werkers te beskerm
# En, minister Buti Manamela sê studenteskuld bly ‘n strukturele uitdaging
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die regering gaan voorheen beplande belastingverhogings terugtrek, wat verligting vir huishoudings en besighede sal bied. Hierdie besluit volg na sterker as verwagte inkomste-invordering, wat die regering in staat stel om fiskale volhoubaarheid te handhaaf sonder om belastingbetalers te belas. Godongwana het in sy begrotingsrede gesê persoonlike inkomstebelasting en kortings sal met inflasie styg, en klein besighede hoef slegs vir BTW te registreer as die omset 2,3-miljoen-rand oorskry:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid doen ‘n beroep op sterker streeksamewerking om werkers regoor Suider-Afrika te beskerm. Minister Nomakhosazana Meth het tydens die vergadering van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Johannesburg gewaarsku dat wêreldwye onbestendigheid, werkloosheid en stygende lewenskoste druk plaas op werkers, veral jongmense en vroue. Die woordvoerder van die ministerie, Teboho Thejane, sê solidariteit en gesamentlike optrede is noodsaaklik om ‘n veerkragtige arbeidsmark te bou waar geen werker agtergelaat word nie:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê studenteskuld bly ‘n strukturele uitdaging wat volhoubaarheid en studentevordering beïnvloed. Hy het die Parlement ingelig oor hoe gereed naskoolse onderwys- en opleidingstelsels vir die akademiese jaar is. Manamela erken baie gegradueerdes sukkel tans om werk te kry, maar het tog beklemtoon dit is noodsaaklik om lenings terug te betaal:
# Vier mense uit Belarus en twee uit Pole is aangekla en word aangehou weens ‘n beweerde poging om toestelle na Rusland te smokkel wat gebruik word vir geïntegreerde stroombane. Poolse aanklaers sê die stroombane word gebruik om hommeltuie te vervaardig. Die aanklaers sê hierdie oortreding word as ‘n misdaad beskou en kan lei tot tronkstraf van minstens drie jaar. Warskou waarsku teen Russiese en Belarussiese pogings om bestendigheid te ontwrig in lande wat Oekraïne ondersteun, nadat Rusland die land in Februarie 2022 binnegeval het.
# Motorsport: Die verdedigende kampioen, Marc Marquez, mik na ‘n gesamentlike rekord van agt MotoGP-wêreldtitels wanneer die seisoen Vrydag in Thailand begin. Die Spanjaard het verlede jaar merkwaardig teruggeveg na beserings en sy eerste kampioenskap sedert 2019 gewen nadat hy dit byna oorweeg het om uit te tree. Die 33-jarige Ducati-jaer het dwarsdeur die seisoen uitgeblink, 25 wedrenne gewen en die titel beklink met vyf byeenkomste oor. Brad Binder en Ruche Moodley van Suid-Afrika neem ook deel aan die openings-wedren.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-350-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-170-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 70-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….