Nuus 18:00
BULLETIN 20 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die jongste misdaadstatistiek toon moorde het met 9-persent gedaal
# Die Moslem Regterlike Raad veroordeel die noodlottige aanval op Moulana Mustaqeem Wanza in Mitchells Plain
# En, die ANC sê die EFF is ‘n bedreiging vir ActionSA wat weier om burgemeesterskomitee-posisies in Ekurhuleni te aanvaar
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die misdaadstatistiek vir die maande tussen Oktober en Desember toon ‘n voortgesette afname in geweldsmisdaad landwyd. Hy sê moorde het met 8,7-persent verminder. Oor die algemeen het geweldsmisdaad met 6,7-persent gedaal, in vergelyking met dieselfde tydperk in 2024. Cachalia het aan die media gesê die regering beplan om sterker op te tree teen georganiseerde misdaad, onwettige vuurwapens, geslagsgeweld en sal gemeenskapspolisiëring uitbrei:
# Die Moslem Regterlike Raad het die dood van die 33-jarige Moulana Mustaqeem Wanza in ‘n skietvoorval in Lentegeur, Mitchells Plain, veroordeel. Die polisie sê hy het pas ‘n moskee verlaat toe hy deur onbekende verdagtes genader en geskiet is. Twee ander mans is gewond en na die hospitaal geneem. Die motief bly onduidelik en geen arrestasies is tot dusver gemaak nie. Die raad se woordvoerder, Sjeik Riad Fataar, vra vir ‘n vinnige en deeglike ondersoek. Hy beskryf die aanval as skokkend en diep ontstellend.
# Die ANC se streeksekretaris in Ekurhuleni, Jongizizwe Dlabathi, sê die party het ActionSA genooi om by die burgemeesterskomitee aan te sluit, maar die aanbod is van die hand gewys. Dlabathi sê die EFF is ‘n bedreiging vir ActionSA. Dlabathi veroordeel bewerings dat ActionSA die posisie geweier het weens ‘n mislukte regering en beweer die stad werk steeds ondanks vorige wanbestuur. Hy beklemtoon die party het tydens die stad se onvrugbare jare ‘n burgemeesterskomitee-rol in gemeenskapsveiligheid gespeel:
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, ontmoet haar Amerikaanse eweknie Marco Rubio. Dit volg nadat president Donald Trump sy kritiek op Londen verskerp het nadat hy die soewereiniteit van die Chagos-eilande prysgegee het. Die eiland is die tuiste van ‘n gesamentlike Brits-Amerikaanse lugmagbasis. Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het verlede jaar ingestem om die soewereiniteit van die Indiese Oseaan-eilande aan Mauritius oor te dra, terwyl hy beheer oor die Diego Garcia-eiland behou het met behulp van ‘n 99-jaar huurkontrak wat Amerikaanse bedrywighede opdie basis beskerm. Die basis is onlangs gebruik vir optrede in die Midde-Ooste.
# Rugby: Die Suid-Afrikaans-gebore Duhan van der Merwe en Kyle Steyn is Skotland se vleuels in môre se Sesnasies-botsing met Wallis in Cardiff. Van der Merwe het die eerste twee rondes misgeloop, ten spyte daarvan dat hy die span se meeste drieë gedruk het. Die afrigter Gregor Townsend het vyf veranderinge aan die beginspan aangebring wat Engeland se reeks van 12 agtereenvolgende oorwinnings op Murrayfield in Edinburg verlede naweek tot ‘n einde gebring het. In die ander wedstryde van die derde ronde verwelkom Engeland Ierland môre op Twickenham, en Frankryk en Italië pak mekaar Sondag in Parys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-11-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-734-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-32-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….