Nuus 17:00
BULLETIN 20 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shadrack Sibiya gee toe oor ongemagtigde deaktivering van dossiere van taakspan vir politieke moorde
# Die Parlementêre Gesondheidskomitee bevraagteken die antiretrovirale tenderproses
# En, Kaapstad gaan eiendomme se belastingkoersformule met 10,2% verlaag na ‘n algemene waardasie in 2025
# Sesi Baloyi van die Madlanga-kommissie het die geskorste adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya uitgedaag oor die SS9-kommunikasiedokument waarop hy tydens administratiewe prosedures staatgemaak het. Baloyi sê die dokument bevat geen skriftelike instruksie om die deaktiveringsproses van die 121 dossiere van die taakspan vir politieke moorde te implementeer nie. Kommissaris Baloyi meen Sibiya het sonder magtiging opgetree. Sibiya sê hy is deur die amptelike proses onder druk geplaas, en was onder die indruk dat hy opdragte deur die nasionale kommissaris se kantoor gevolg het:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid het kommer uitgespreek oor die Departement van Gesondheid se omsigtigheid rakende die toekenning van ‘n antiretrovirale tender van 15,5-miljard-rand aan twee ondernemings wat tans in sakeredding is. Lede bevraagteken bewerings dat 70-persent van die teen-Vigsmiddels plaaslik verkry word. Die komitee vra vordering met die stigting van ‘n staatsbeheerde farmaseutiese onderneming. Groter deursigtigheid, verantwoordbaarheid en skriftelike antwoorde word ook geëis oor finansiële oordeel en risikobeperking in die tenderproses.
# Die Stad Kaapstad sê hy gaan ná 2025 se algemene waardasie ‘n verlaging van 10,2-persent voorstel vir wooneiendomme se koers-in-rand. Kaapstad se koers-in-rand, die formule waarvolgens eiendomsbelasting bereken word, is oor alle kategorieë die laagste in Suid-Afrika. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die voorgestelde verlaging en uitgebreide belastingvoordele vir meer middelklas-huise sal die meerderheid belastingbetalers beskerm:
# Die Britse polisie het vandag die voormalige herehuis van koning Charles se jonger broer, Andrew Mountbatten-Windsor, deursoek nadat ‘n foto van die koninklike wat by ‘n polisiestasie uitstap, wêreldwyd gepubliseer is. Mountbatten-Windsor is gister in hegtenis geneem in verband met aantygings dat hy vertroulike regeringsdokumente aan die seksoortreder Jeffrey Epstein gestuur het. ‘n Skuldigbevinding vir wangedrag in ‘n openbare amp kan ‘n maksimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf beteken, en hierdie sake moet in ‘n hoërhof aangehoor word waar die ernstigste strafregtelike oortredings hanteer word.
# Rugby: Die Stormers het sy kontrak met die haker Vernon Paulo bevestig. Dit is voor die volgende ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die direkteur van Rugby, John Dobson, sê die 24-jarige se natuurlike vermoëns en passie vir die span maak van hom ‘n aantreklike vooruitsig. Paulo is in Riversdal in die Wes-Kaap gebore en het by die Oakdale Agricultural School skoolgegaan. Hy het in die Varsitybeker gespeel toe sy span, die NWU Eagles, die trofee in 2023 gewen het. Hy het later in dieselfde jaar sy buiging vir die Cheetahs gemaak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-10-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-148-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-26-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 71-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….