Nuus 18:00
BULLETIN 6 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sal die rooi tapyt uitrol as Mbuyiseni Ndlozi na die party terugkeer
# COSATU verwelkom Suid-Afrika se volle toetrede tot die Afreximbank
# En, die ACDP in Gauteng waarsku oor die leerdervervoerkrisis
# Die EFF-leier Julius Malema sê hy sal die voormalige Parlementslid, Mbuyiseni Ndlozi, terug verwelkom na die party en prys sy eerbare uittrede in Februarie 2025. Ndlozi het uitgetree nadat hy aangekla is van beweerde betrokkenheid by ‘n MK-party-infiltrasiestrategie nadat die voormalige EFF-adjunkpresident Floyd Shivambu weg is. Malema het in ‘n onderhoud met SABC News gesê Ndlozi het sy waardigheid behou en altyd by die amptelike partybeleid gehou:
# COSATU verwelkom Suid-Afrika se volle toetrede tot die Afrika-invoer-en-uitvoerbank. Die vakverbond sê dit sal die land se handels- en ontwikkelingsgeleenthede in Afrika versterk. Woordvoerder Matthew Parks prys die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se onvermoeide pogings om hierdie waardevolle sukses te verseker ter wille van die land se ekonomiese groei. Hy vra die regering en ondernemings om die lidmaatskap tot voordeel van werkers en gemeenskappe te gebruik:
# Die ACDP in Ekurhuleni, Gauteng, sê ouers in Boksburg betaal vir skoolvervoer nadat die Gautengse Onderwysdepartement versuim het om operateurs te betaal. Woordvoerder Palesa Yates sê die skooljaar het pas begin, maar leerders is afwesig en onderwysers sukkel om klasse te hanteer. Sy sê voertuigbestuurders werk steeds sonder betaling. Yates sê dit dwing ouers om die koste te dek, ontwrig onderrig en veroorsaak kommer oor veiligheid:
# Nederland het ‘n beeldhouwerk wat drie-duisend-500 jaar oud is terugbesorg aan Egipte nadat die geplunderde kunswerk in 2022 by ‘n kunstefees ontdek is. ‘n Nederlandse ondersoek het verlede jaar bevestig die beeld is geplunder en onwettig uit Egipte verwyder, heel waarskynlik tydens die Arabiese Lente-onrus van 2011, voor dit op die internasionale kunsmark verskyn het. Kenners glo die kop wat uit klip gekap is, was oorspronklik deel van ‘n kubusvormige standbeeld uit Luxor in Suid-Egipte. Dit is ‘n uitbeelding van ‘n senior amptenaar uit Farao Toetmoses die Derde se bewind.
# Olimpiese Spele: Die Milaan Cortina Winterspele in Noord-Italië skop vanaand af met ‘n uniek-verweefde openingseremonie. Die geleentheid sal kenmerke van mede-gashere, Milaan en Cortina D’Ampezzo saamvoeg om die stads- en berglewe te weerspieël. Die wêreldbekende plaaslike tenoor, Andrea Bocelli, en die Amerikaanse pop-diva, Mariah Carey, sal in Milaan by die San Siro-sokkerstadion optree, terwyl Cortina meer as 400 kilometer verder in die berge by die viering sal aansluit. Twee Olimpiese fakkels sal gelyktydig aangesteek word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-7-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-875-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-921-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 66-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….