Nuus 17:00
BULLETIN 6 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwag Binnelandse Sake se suksesse gaan sterk vertoon in die staatsrede
# ‘n Onderwysaktivis verwelkom NSFAS-befondsing aan meer as 600-duisend studente
# En in Krieket, die T20-Wêreldbekertoernooi begin môre met drie wedstryde
# Die DA verwag die Departement van Binnelandse Sake se onlangse sukses gaan volgende Donderdag groot aandag kry in president Cyril Ramaphosa se staatsrede. Woordvoerder Adrian Roos sê die departement kan wys op meetbare vordering in die hervorming van dienslewering en die ondersteuning van ekonomiese groei. Hy sê Ramaphosa moet besin oor vooruitgang in die uitwissing van langdurige visum- en permitagterstande, die vermindering van onwettige grensoorgangspogings en die uitbreiding van visumskemas:
# ‘n Senior beampte in die SAPD Forensiese Dienste, Rachel Matjeng, het bewerings ontken dat die sakeman Vusimusi ”Cat” Matlala vir kosmetiese chirurgie betaal het. Matjeng het voor die Madlanga-kommissie getuig dat sy hom gevra om haar te help om Ozempic te bekom vir gewigsverlies omdat sy gesukkel het om dit by apteke te kry. Die saak is geopper tydens kruisondervraging deur die Parlement se ad hoc-komiteelid, Darleen James. Matlala het beklemtoon die versoek was persoonlik en ondersteun deur ‘n geldige voorskrif:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta verwelkom die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se goedkeuring van die befondsing van meer as 600-duisend studente vir die akademiese jaar. NSFAS het 4,27-miljard-rand aan universiteite en kolleges vir Tegniese en Beroeps-onderwys en -opleiding uitbetaal. Makaneta sê dit is kommerwekkend dat meer as 21-duisend aansoekers se dokumente steeds uitstaande is, aangesien hierdie studente se befondsing nou vertraag word:
# Minstens 31 mense is dood na ‘n selfmoordbomaanval tydens Vrydaggebede in ‘n Sjiïtiese Moslem-moskee in Pakistan se hoofstad Islamabad. Foto’s wys slagoffers wat op die matte in die moskee lê, omring deur glasskerwe, rommel en paniekbevange aanbidders. Minstens 169 gewondes is intussen na hospitale geneem. Polisiebeamptes sê die aanvaller is by die ingang van die moskee voorgekeer voor hy die bom geaktiveer het. Bomaanvalle kom selde in die goedbewaakte hoofstad voor, alhoewel Pakistan die afgelope paar jaar gereeld deur militante optrede geteiken is.
# Krieket: Die T20-Wêreldbekertoernooi spring môre met mening af wanneer nie minder nie as drie wedstryde beslis word. Pakistan en Nederland stap eerste op die veld in die Sri Lankaanse hoofstad, Colombo, gevolg deur die ontmoeting tussen Skotland en die Wes-Indiese Eilande in die Indiese stad Kolkata. Indië en Amerika sal mekaar in Wankhede die stryd aansê. Suid-Afrika se eerste groepswedstryd is Maandag teen Kanada in Ahmedabad, Indië, gevolg deur ontmoetings met Afganistan, Nieu-Seeland en die Verenigde Arabiese Emirate.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-593-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-917-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….