Nuus 18:00
BULLETIN 23 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Moroadi Cholota sien uit na die binneverhoor in haar uitleweringsaak
# Die DA verwelkom die SANParke Kruger-herstelfonds
# En, brandbestryders monitor en beheer die oorblywende brandlyne in die Franschhoek-berge
# Die voormalige premier van die Vrystaat Ace Magashule se persoonlike assistent, Moroadi Cholota, verwelkom die Konstitusionele Hof se uitspraak dat haar uitlewering uit die VSA in 2024 onwettig was. Sy en 18 ander staan tereg op aanklagte van korrupsie en geldwassery in die asbessaak van 255-miljoen-rand wat met Magashule verbind word. In ‘n onderhoud met SABC News beklemtoon sy die stryd om haar regte sal voortduur wanneer ‘n binneverhoor Maandag in die Hooggeregshof in die Vrystaat begin:
# Die DA verwelkom die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, en SANParke se stigting van die Kruger-herstelfonds. Die fonds sal die dringende herbou en herstel van noodsaaklike infrastruktuur in die Krugerwildtuin ondersteun om langtermynvolhoubaarheid te verseker. Vloedskade in die wildtuin word op 500-miljoen-rand beraam. Andrew de Blocq van die DA sê hulle ondersteun die fonds se bestuurstruktuur:
# Die Brandweerdienste van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê brandbestryders monitor en beheer ‘n aantal oorblywende brandkolle in die hoërliggende gebiede van die Franschhoekberge. Die Franschhoekpas bly egter oop. Jo-Anne Otto van die munisipaliteit het die publiek gevra om versigtig te wees terwyl die brand beheer en gemonitor word:
# Wit boere in Zimbabwe versoek steun van die Amerikaanse president, Donald Trump om vergoeding van 56-miljard-rand te verseker vir grond waarop beslag gelê is toe die gewelddadige invalle in 2000 begin het. ‘n Steunwerwings-onderneming, Mercury Public Affairs, wat met Trump verbind word, het ingestem om die boere gratis te verteenwoordig. Die Zimbabwiese regering het in 2020 vergoeding belowe, maar dis nooit gedoen nie. Druk op Harare om die ooreenkoms na te kom en agterstallige skuld te delg neem toe, wat internasionale befondsing belemmer en kommer oor politieke risiko en beleggersvertroue veroorsaak.
# Rugby: Môre se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd tussen die Stormers en die Haaie in Kaapstad word as hoogs onvoorspelbaar beskou. Die Haaie se afrigter, JP Pietersen, sê daar was in die laaste vier wedstryde in die Moederstad nooit ‘n groter verskil as vyf punte tussen die spanne nie. Die Stormers-flank, Paul de Villiers, vergelyk dit met die derbie-wedstryde wat op skool gespeel word. Hy sê dit maak nie saak wat voorheen gebeur het en wie fiks is en wie nie, want dit voel of enige span kan wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-365-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-943-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 64-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….