Nuus 17:00
BULLETIN 22 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Afrika-Ontwikkelingsbank en die Verenigde Koninkryk verleng die klimaatooreenkoms vir Suid-Afrika
# Die DA veroordeel die gewelddadige begin vir die jaar met bendegeweld wat in die Wes-Kaap toeneem
# En, Donald Trump sê ‘n Amerikaanse oorlogsvloot is op pad na Iran
# Die Afrika-Ontwikkelingsbank en die Verenigde Koninkryk het ‘n klimaatgekoppelde skuldwaarborg van 16,3-miljard-rand aan Suid-Afrika uitgereik. Dit is deel van die klimaatsfinansieringspakt, bekend as die Billike Energie-oorgang, tussen Suid-Afrika en sommige van die wêreld se rykste nasies. Die Britse hoëkommissariaat sê die verlenging van die skuldwaarborg is om die Suid-Afrikaanse regering in staat te stel om die Munisipale Nutsdienste-hervormingsprojek vanjaar in werking te stel en ander lae-koolstof-infrastruktuurprojekte te ontwikkel.
# Limpopo se LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake, Basikopo Makamu, verwelkom die ontplooiing van bykomende reddingswerkers van die Nasionale Rampbestuursentrum. Hulle sal pogings versterk om mense te vind wat ná swaar reën meegesleur is. Die getal vermiste persone in die provinsie staan tans op vyf, terwyl 19 sterftes aangemeld is. Die departement se woordvoerder, Tsakani Baloyi, sê reddingswerkers werk onverpoosd om vermiste persone op te spoor:
# Die DA vra die polisie om intelligensie-gedrewe operasies te verskerp terwyl die Wes-Kaap ‘n dodelike begin van die jaar ondervind. Honderd-95 moorde is reeds dié maand aangeteken teen ‘n gemiddeld van elf per dag. Die party sê bendegeweld en onwettige vuurwapens terroriseer steeds gemeenskappe. Woordvoerder Benedicta van Minnen het die polisie aangespoor om met provinsiale en plaaslike wetstoepassing saam te werk om inwoners te beskerm en veiligheid te herstel:
# President Donald Trump sê daar is ‘n oorlogsvloot op pad na Iran, maar hy hoop hy hoef dit nie te gebruik nie. Hy het Teheran opnuut gewaarsku teen moord op betogers of die hervatting van sy kernkragprogram. Amerikaanse amptenare sê die vliegdekskip USS Abraham Lincoln en verskeie geleide-missielvernietigers sal binnekort in die Midde-Ooste aankom. Bykomende lugverdedigingstelsels vir die streek word ook oorweeg, wat van kritieke belang kan wees om Amerikaanse basisse teen enige Iranse aanval te beskerm.
# Rugby: Die veelsydige Springbok André Esterhuizen keer terug om die Haaie in môre se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Stormers in Kaapstad aan te voer. Hy sal saam met sy internasionale spanmaat Ethan Hooker op senter wees. Die afrigter JP Pietersen het ‘n sterk reserwebank gekies, onder andere die Bok-kaptein Siya Kolisi, Bok-stut Ox Nché en Bok-skrumskakel Grant Williams. Die Haaie is 14de op die punteleer wat beteken hulle het dringend ‘n oorwinning nodig. Die onoorwonne Stormers is boaan die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-178-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-943-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 64-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….