Nuus 18:00
BULLETIN 27 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Burgerlike Samelewing vra president Ramaphosa om aanstellingsproses van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging te versterk
# Die ANC-hoofsweep verwerp bewerings dat Matlala die 8 Januarie-geleentheid befonds het
# En, LP Fadiel Adams dien klagtes in teen senior polisiebeamptes
# Die Werkgroep van die Burgerlike Samelewing oor Staatskaping doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die wet vir die aanstelling van die volgende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging te versterk. Die organisasie, insluitend die Organisasie teen belastingmisbruik, sê die Zondo-kommissie oor staatskaping het veranderinge aan die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag aanbeveel om ‘n meer deursigtige keuringsproses te verseker. Met die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, se termyn wat in Januarie verstryk, sê hulle ‘n duidelike en sterk proses sal aanspreeklikheid verbeter terwyl die president se mag om ‘n aanstelling te maak ongeskonde bly.
# Die hoofsweep van die ANC, Mdumiseni Ntuli het die party verdedig teen bewerings dat hy befonds is deur die vermeende baas van ‘n misdaadsindikaat, Vusimuzi “Cat” Matlala. Ntuli het tydens Matlala se getuienis vanuit die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum in Tshwane, gesê sakeman, Brown Mogotsi verteenwoordig nie die ANC nie, en geld wat met Matlala verbind word en na Mogotsi gegaan het, beteken nie die party se geleentheid op 8 Januarie is daarmee befonds nie. Hy het die bewerings ‘n wanvoorstelling genoem van die verhouding tussen Matlala en Mogotsi:
# Die National Coloured Congress Parlementslid, Fadiel Adams, het strafregtelike klagtes ingedien teen die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi en die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele. Hy vra ‘n ondersoek na bedrog en korrupsie. Dit volg op bewerings tydens die Parlement se ad hoc-komitee-verhoor in Pretoria oor Cele wat omkoopgeld van 500-duisend-rand ontvang het by die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala, wat ook met Mkhwanazi vergader het oor betalingsvertragings. Adams is voorheen deur Mkhwanazi betrek by die wanhantering van intelligensie, en het ook ‘n nepotisme-saak teen die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola aanhangig gemaak.
# ‘n Vrou is dood en ‘n man ernstig beseer in ‘n haai-aanval by ‘n gewilde strand in Australië. Die aanval het in Crowdy Bay Nasionale Park noord van Sydney plaasgevind toe hulle vroegoggend gaan swem het. Die vrou is op die toneel dood en die man is in ‘n bedenklike toestand per helikopter hospitaal toe geneem. Kenners sê dit gebeur nie dikwels dat ‘n haai meer as een persoon aanval nie. Die strand is gesluit terwyl owerhede bepaal watter haaispesie dit was.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê volgende week se internasionale vriendskaplike wedstryd in Marokko bied ‘n kans om nuwe spelers te evalueer voor die Afrika-Vrouebeker volgende jaar. Die groep, wat môre vertrek, bestaan meestal uit nuwelinge wat vir die eerste keer Marokkaanse toestande sal ervaar. Ellis sê die November-gleuf laat evaluasie toe ondanks beserings en spelers se onbeskikbaarheid. Sy beklemtoon dit bied ook waardevolle blootstelling, insluitend volgepakte stadions en ‘n groot tuisskare:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-743-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-157-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….