Nuus 18:00
BULLETIN 25 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula se swygbevel teen Brown Mogotsi word toegestaan
# SKOOR dreig met ‘n kriminele ondersoek teen die voormalige uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds Collins Letsoalo
# En, bemiddeling tussen Solidariteit en die regering oor toenemende afleggings bereik ‘n dooiepunt
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n swygbevel aan die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula toegestaan teen die sakeman Brown Mogotsi. Mogotsi het Mbalula in die openbaar beskuldig van betrokkenheid by die moord op die Noordwes-sakeman, Wandile Bozwana, asook van korrupsie. Die hof het bevind dit is vals en lasterlik. News24 berig Regter Jacobus Strydom het Mogotsi beveel om alle verklarings op sosiale media en aanlyn platforms binne 48 uur te verwyder en hom ook verbied om verdere lasterlike kommentaar te lewer. Skadevergoeding sal later bepaal word.
# Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge sê hulle sal die voormalige uitvoerende hoof van die Padongelukkefonds, Collins Letsoalo, vir kriminele ondersoek verwys indien hy nie môre voor die parlement verskyn nie. Letsoalo het wettige dagvaardings oor beweerde finansiële wanbestuur by die fonds geïgnoreer. SKOOR het twee dae vir sy getuienis toegeken, na sewe weke van getuienis deur huidige en voormalige werknemers. Voorsitter Songezo Zibi het beklemtoon die parlement moet alle kante aanhoor vir ‘n regverdige ondersoek:
# Solidariteit en die regering kon nie ‘n ooreenkoms bereik oor kommer weens toenemende afleggings tydens bemiddeling voor die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad nie. Werkgewers soos Columbus Steel, Glencore en Samancor het die gesprekke bygewoon. Solidariteit waarsku honderde-duisende werksgeleenthede kan voor Kersfees verlore gaan, en beplan landwye versetoptrede. Woordvoerder Gideon du Plessis sê regeringsmislukkings met infrastruktuur, beleid en regulering vererger die krisis:
# Die Amerikaanse minister vir die Weermag, Dan Driscoll, het in Abu Dhabu met Russiese amptenare beraadslaag as deel van president Donald Trump se administrasie se intense nuwe poging om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Die presiese aard van die samesprekings is nie bekend nie. Driscoll sal na verwagting ook met Ukraïnse verteenwoordigers vergader. Oekraïne se hoofstad, Kiëf, is intussen oornag deur missiele en hommeltuie getref waarin ses mense dood en krag- en verhittingstelsels ontwrig is.
# Tennis: Nick Kyrgios is ‘n promotorskeuse vir die verbeterde Kooyong Classic in Melbourne ter voorbereiding vir volgende jaar se Australiese Ope. Die 30-jarige Australiër het in Maart laas op die ATP-toer gespeel, met knie- en pols-operasies wat sy loopbaan bedreig en hom in meer as drie jaar tot slegs ses wedstryde beperk het. Kyrgios sluit aan by spelers soos die Italianer Matteo Berrettini, Marin Cilic van Kroasië en die Rus Alexander Bublik, wat ook in Januarie aan die toernooi gaan deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-851-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-143-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….