Nuus 17:00
BULLETIN 25 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom ontvang ‘n groot kredietopgradering met die omkeerplan wat wesenlike herstel aanwakker
# Die SAPD finansiële hoof bevestig die taakspan-begroting is slegs met Masemola bespreek en nie met Senzo Mchunu nie
# En, die Suid-Afrikaanse Weerdiens bevestig ‘n tornado in Heilbron in die Vrystaat
# Eskom sê sy omkeerplan werp vrugte af nadat S&P Global Ratings die kragverskaffer se kredietgradering van ‘n B na ‘n B-plus opgradeer het, met ‘n bestendige vooruitsig. Die kragverskaffer het hierdie jaar byna 98-persent van die tyd krag gelewer en sy eerste wins in agt jaar aangeteken. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragreus het van ‘n krisis na bestendigheid beweeg en sal voortgaan om bedrywighede te verbeter, korrupsie te beveg en langtermyn-energievoorsiening te verseker:
# Die SAPD se hoof- finansiële beampte, Puleng Dimpane, het voor die Parlement se ad hoc-komitee getuig sy het die taakspan vir politieke moorde se begroting slegs met die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, bespreek en nie met minister Senzo Mchunu nie. Dimpane het vanuit die Kgoši Mampuru-gevangenis getuig en gesê reis en verblyf is die taakspan se grootste uitgawes. Sy het bevestig alle begrotingstoekennings en aanbiedings is deur Masemola hanteer, sonder enige regstreekse ministeriële betrokkenheid by die taakspan se befondsingsbesluite:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê daar was gister ‘n swak tornado op ‘n plaas naby Heilbron in die Vrystaat. Dit het gevorm nadat sterk donderstorms in die gebied ‘n supersel-donderstorm veroorsaak het. Die tornado is as ‘n EF0 gegradeer, wat die swakste vlak is, met wind van tot ongeveer 137-kilometer per uur. Geen groot skade of beserings is aangemeld nie. Weervoorspeller Lehlohonolo Thobela versoek mense om veilig te bly en versigtig te wees tydens hewige storms:
# Die plan vir ‘n derde aanloopbaan van 747-miljoen-rand op Heathrow in Londen is gekies om die lughawe te vergroot, wat beteken die hotel-magnaat Surinder Arora se mededingende plan vir ‘n korter aanloopbaan is verwerp. Heathrow sê die projek sal heeltemal privaat gefinansier word deur hoër lugredery-kostes en sonder belastinggeld. Dit sal behels dat Brittanje se besigste snelweg, die M25, herlei en twee dorpe gesloop moet word. Die regering hoop ‘n beplanningsbesluit sal teen 2029 geneem word, en die nuwe aanloopbaan sal teen 2035 gebou word.
# Rugby: Ryan Baird en Jamie Osborne van Ierland gaan onderskeidelik drie en vier maande buite aksie wees en die begin van 2026 se Sesnasiesreeks misloop. Die voorspeler Baird kan tot drie maande lank op die kantlyn sit weens ‘n beenbesering wat hy Saterdag opgedoen het in die nederlaag van 24-13 teen Suid-Afrika in Dublin. Die senter Osborne kan weens ʼn skouerbesering tot vier maande buite aksie wees. Ierland skop die Sesnasies op 5 Februarie af teen Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-583-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-141-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….