Nuus 18:00
BULLETIN 24 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kom in Angola aan om die AU-EU-beraad by te woon
# Meer as 16-duisend verdagtes is gedurende die naweek aangekeer as deel van Operasie Shanela 2
# En, die Gautengse Onderwysdepartement betreur die dood van ‘n Graad 12-leerder in chaos by Schaumburg Combined School
# President Cyril Ramaphosa het vanoggend in Luanda, Angola aangekom om vandag en môre die Sewende Afrika-Unie en Europese Unie-beraad by te woon. Die beraad vier die 25ste herdenking van samewerking tussen die twee unies en sal fokus op vrede, veiligheid, regering, voorspoed, migrasie en mobiliteit. Suid-Afrika beoog om EU-steun vir die AU se Tweede Tien-jaar-Implementeringsplan onder die 2063 Agenda te verseker. Ramaphosa word vergesel deur minister Ronald Lamola.
# Die SAPD het 16-duisend verdagtes landwyd in hegtenis geneem tydens die Veiliger Feesseisoen-operasie en Operasie Shanela Twee, wat in die week van 17 tot 23 November uitgevoer is. Die woordvoerder van die polisie, Vincent Mukhathi, sê onder hulle was 178 verkragtingsverdagtes, 143 vir moord, en eenduisend-870 gesoek vir ernstige misdade, insluitend kapings, rooftogte en dwelmhandel. Mukhati sê hulle het ook beslag gelê op 150 ongelisensieerde vuurwapens, 984 gevaarlike wapens en toerusting wat verband hou met perlemoenstropery in die Oos-Kaap:
# Die Gautengse Onderwysdepartement betreur die dood van ‘n Graad 12-leerder wat deur ‘n bus getref is tydens chaotiese tonele by die Schaumburg Combined School in Krugersdorp. Die voorval het begin toe vier seuns blykbaar die skool binnegekom en ‘n geveg uitgebreek het. ‘n Busbestuurder het te midde van onrus weggery en verskeie leerders getref. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die polisie ondersoek die voorval en sielkundige hulpspanne is ontplooi:
# Israelse magte het vandag drie Palestyne in Gaza vermoor, na aan die lyn wat gebiede in Israelse beheer afbaken. Dit onderstreep die stryd om die brose wapenstilstandooreenkoms te verbreed. Palestynse mediese personeel sê ‘n Israelse hommeltuig is tydens die voorvalle, oos van Khan Younis gebruik, waarin twee mense dood en ‘n ander gewond is. Nog ‘n persoon is dood weens skrapnel in ‘n tenkaanval aan die oostekant van Gaza-stad. Die Palestynse militante groep Hamas en Israel het op 9 Oktober ‘n wapenstilstandooreenkoms onderteken, maar beide kante beskuldig mekaar sedertdien dat dit oortree word.
# Sokker: Arsenal het sy voorsprong op die Premierliga-punteleer tot ses punte vergroot na hul oorwinning van 4-1 oor Tottenham Hotspur in die Noord-Londense derby op die Emirates-stadion. Die speler van die wedstryd, Eberechi Eze, het ‘n sensasionele driekuns behaal ná Leandro Trossard se openingsdoel om ‘n oortuigende oorwinning te verseker. Die titeluitdagers Liverpool en Manchester City het albei Saterdag verloor, onderskeidelik teen Nottingham Forest en Newcastle. Arsenal se afrigter, Mikel Arteta, sê hulle laat hulle nie meevoer nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-006-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-75-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….