Nuus 18:00
BULLETIN 19 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brown Mogotsi beweer die taakspan vir politieke moorde word gebruik vir politieke doeleindes buite sy mandaat
# Die VF Plus sê Malusi Gigaba en Brian Molefe het hul eed geskend en moet die Parlement verlaat
# En, BOSA kry ‘n parlementêre debat oor die onderwyskrisis
# Die sakeman Brown Mogotsi het voor die Madlanga-kommissie gesê die taakspan vir politieke moorde word gebruik vir politieke doeleindes buite sy oorspronklike mandaat. Mogotsi is bekommerd oor klopjagte, insluitend een by die tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala se huis in Pretoria, en impliseer die span was betrokke by bedrywighede wat verband hou met beweerde korrupsie in Misdaadintelligensie. Mogotsi het vrese vir sy veiligheid uitgespreek ná ‘n beweerde aanslag op sy lewe:
# Die Vryheidsfront Plus vra Malusi Gigaba van die ANC en Brian Molefe van die MK-party moet bedank as parlementslede. Albei word van korrupsie aangekla oor Transnet se lokomotief-verkrygingsproses van 2014, asook van bedrog en skending van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. Woordvoerder Philip van Staden waarsku korrupte ampsdraers wat openbare ondernemings gestroop het, hoort nie in die Nasionale Vergadering nie en moet parlementêre en regsgevolge dra:
# BOSA sê die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het ‘n parlementêre debat oor die onderwyskrisis goedgekeur, wat vir volgende Vrydag geskeduleer is. Die party vra dat die huidige 30-persent-slaagsyfer in die matriekeksamen verhoog word tot ‘n minimum van 50-persent. BOSA waarsku die lae drempel verswak studies en maak hoë jeugwerkloosheid groter. Roger Solomons van BOSA sê die debat sal fokus op die verbetering van onderwysstandaarde en sal ook verseker jong Suid-Afrikaners word beter voorberei vir betekenisvolle indiensneming.
# Die president van Ghana, John Mahama, beklemtoon Afrika moet soewereiniteit oor sy natuurlike hulpbronne terug eis om die welstand van sy mense te verseker. Hy het tydens die Verenigde Nasies se 80ste Algemene Vergadering, vandag se ongelykhede verbind aan slawerny, kolonialisme en eeue van ontginning en noem slawehandel ‘n misdaad teen die mensdom. Hy versoek ‘n einde aan uitbuitende kontrakte en spoor Afrikane aan om die waarde van hul hulpbronne te bepaal en hul eie ekonomiese toekoms uit te stippel:
# Gholf: Die enigste driemalige kampioen op vanjaar se DP World-toer, Marco Penge, het ingeskryf vir die Nedbank-uitdaagtoernooi. Hy het die seisoen na oorwinnings in China, Denemarke en Spanje afgesluit in die tweede plek op die Race to Dubai puntelees en 30ste op die wêreldranglys. Penge sê hy’s mal daaroor om in Suid-Afrika te speel en sien daarna uit om ‘n ongelooflike jaar af te sluit deur vir die eerste keer aan die Nedbank-toernooi deel te neem, ter ere van Gary Player.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-99-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-107-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….